Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Jeug moet groot dink en droom

Jeug moet groot dink en droom
 
2005-11-03


ONS jeug moet leer om groot te dink, om te droom. Hulle moet glo daar is hoop en die geleenthede aangryp wat na hulle kant toe kom.

So sê Allister Golding, oud-leerder van New Orleans Sekondêr, wat deesdae sy tyd verwyl met motiveringswerk onder die leerders.

“Ek glo jy moet as jongmens ’n doel hê, dan sal jy ’n sukses van jou lewe maak,” vertel dié ernstige jongman. “As wedergebore Christen glo ek dat met God alles moontlik is.”

Allister het in 2001 matriek geskryf by New Orleans.

Daarna het hy begin met ’n kursus in besigheidsbestuur by Damelin Kollege.

“Ek het gevoel die Here lei my om Engeland toe te gaan, maar ek het besluit om eers my studies hier klaar te maak.”

Op 8 Augustus 2003, sy ma se verjaardag, klim hy op die vliegtuig. In Bury St Edmunds in Suffolk begin hy in ’n piekelfabriek te werk.

Na twee maande besluit hy om in ’n ander rigting te gaan. In Suid-Afrika het hy vyf jaar lank deeltyds by Edgars gewerk en met hierdie ondervinding kry hy werk by ’n tak van die kettingwinkel Sainsbury’s.

Binne ses maande word hy bevorder tot assistent-departementsbestuurder, ’n pos wat hy beklee tot hy vroeër vanjaar moes terugkeer Suid-Afrika, na sy visum verval het.

Allister het nou aansoek gedoen vir ’n vyfjaar-werkpermit en hoop om vroeg aanstaande jaar terug te keer Suffolk toe.

Want dit is ook waar hy sy hart verloor het. Die nooi is Georgia Crestwell, en sy gaan volgende jaar maatskaplike werk studeer.

Dit pas goed aan by sy nuwe passie: Allister het in die teologie begin studeer aan die St John Nottingham College. Intussen gaan hy ook verder met besigheidsbestuur.

Allister vertel dat hy die eerste paar weke met alle geweld wou terugkom Suid-Afrika toe, maar toe ontdek hy ’n kerk, Christ Church, wat regtig uitreik na jongmens.

“In Engeland is daar ’n groot verdeling tussen Christene en nie-Christene. Hier in Suid-Afrika is ons miskien arm aan geld, maar ons is ryk van gees.

“In Engeland is dit andersom, die meeste mense leef net vir hulself.”
Hy sê daar het hy relatief min Christene teëgekom en hy glo hy het ’n doel daar met uitreiking.

Intussen kuier hy by sy ouers in die Paarl, ma Heather en pa Quinton. Hy het ook ’n getroude suster, Rweva, en ’n jonger broer, Herschal, wat nog in die huis is. “Ons is ’n hegte gesin en dit is maar moeilik as ek so ver is.”

Maar intussen is stilsit nie op sy agenda nie.
“Ek het gevoel die Here het ook ’n doel met my terugkeer Suid-Afrika toe,” vertel hy van sy vrywillige werk by sy alma mater.

Allister het veral baie met die matrieks gewerk rondom motivering en sê die eksamenuitslae sal vertel of dit gewerk het.

“Dit kos blinde geloof om dag na dag met mense te werk, sonder dat jy dadelik resultate kan sien.”

Behalwe die matrieks, het hy ook gereelde sessies met die graad tiens, waar hy luister na hul probleme en probeer bepaal wat jongmense negatief maak. “Sou daar probleme wees, kan ons dan kyk hoe om dit op te los.”

Allister glo dat alle mense, veral die jeug, moet droom. Sy eie groot droom is ’n jeugsentrum waar hy jongmense kan help om positiewe denke te ontwikkel en groter te dink.

Mense kan hom kontak by 863-3426 (saans) of besoek sy webblad, AllisterG@ blogspot.com vir meer inligting.

* Youngsters must think big, says a motivational youth councillor at a high school in Paarl.




More News
  • Gasheer vir stoei
  • Show-jumping inter-schools at Evergreen
  • Met 'n groot glimlag vorentoe
  • Wiese uit sy nate oor oorsese toer
  • Boishaai gesels saam met grotes
  • Paarl Juniors hit five
  • Sixteen teams in soccer tournament
  • Alexa skrik nie vir 300 doele nie
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za