Vrou oorleef botsing
2005-11-03
TWEE potensieel noodlottige ongelukke het die afgelope naweek in die Paarl-omgewing plaasgevind, sonder enige ernstige beserings.
’n Bejaarde vrou in ’n wit Honda Civic het Saterdag vanuit die Sonstraalpad op die N1 ingedraai, maar sy het aan die verkeerde kant van die snelweg beland.
Sy het onbewus van haar fout 60m verder gery teen hoë spoed, voordat sy teen ’n aankomende Toyota Run-X gebots het. Niemand is in die ongeluk beseer nie.
Nog ’n senutergende ongeluk het op Jan van Riebeeckweg by die kruising met Oosboschstraat plaasgevind.
Ricardo Williams was saam met sy vrou, Ewida, en nog vriende, vanaf Wellington na die Paarl onderweg.
Toe hulle by die verkeerslig voor Spilo wou wegtrek, het ’n motor in hulle vasgery, waarna die bestuurder uitgespring en weggehardloop het.
’n Bystander het daarin geslaag om hom vas te trek en terug te bring na die ongelukstoneel.
Die man is aangekla van dronkbestuur sowel as bestuur sonder ’n geldige lisensie.
Behalwe vir ’n paar blou kolle is niemand ernstig beseer nie.
* ’n Motor wat die naweek in Suider-Paarl gesteel is, is vermoedelik daarna in ’n rooftog in Villiersdorp gebruik.
Die wit Toyota Tazz van ’n besoekende polisie-superintendent van Port Elizabeth, is Vrydagnag in Allemanstraat gesteel.
Dieselfde motor is Saterdag verlate gevind in Villiersdorp, kort nadat ’n firma beroof is deur mans wat in dié motor daar opgemerk is.
Die naweek is daar ook ’n Wit Nissan 1400 bakkie by ’n vervoerfirma aan die Ou Paarlpad gesteel.
Van dié bakkie is daar nog geen spoor nie.
More
News
|