Satansmoord: 'Satun' in bloed geskryf
2005-11-03
Malané Bosman
’n MAN wat vir sy geloof en sy medemens gelewe het, is Maandagaand op Allerheilige-aand (Halloween) “soos Christus gekruisig” in ’n kerk in Paarl-Oos.
Die vermeende moordenaar van Charles Jacobs, opsigter van die Church of Jesus Christ of the Latter-Day Saints in Klein Drakensteinweg, het daarna aan die etenstafel by die Jacobs-gesin gaan sit.
Charles (54) se liggaam is Dinsdag om 06:30 deur sy broer Ivor en huisvriend Godfrey Makapele ontdek.
Volgens sy geskokte gesin is sy hande met elektriese koord agter sy rug vasgemaak, sy kortbroek “soos ’n kroon” oor sy kop getrek en is hy met steke in die sye gemartel totdat hy in ’n plas bloed gesterf het.
Die moordwapen is vermoedelik ’n tuinvurk.
Charles se selfoon en twee DVD-spelers wat in ’n kas toegesluit was, is gesteel.
Mense in Paarl-Oos het Dinsdag bespiegel dat die “bisarre” moord die werk van sataniste kon wees. Die woord “Satun” (gespel soos satan in Frans uitgespreek sou word) is met Charles se bloed op die vloer geskryf.
Charles moes die moordenaar geken het, en die veiligheidshek vir hom oopgemaak het, het ondersoekers en familielede bevestig.
’n Polisie forensiese span en kenners van die okkulte het die toneel ure lank bestudeer.
“Dit is asof Charles gekruisig is,” het sy suster Sharon Wyngaard by die Jacobs-woning te Kolbestraat 4 gesê.
“Hy is soos Christus gemartel.”
Die verdagte is ’n Keniaan wat as sendeling en ouderling by die kerk in Klein Drakenstein diens gedoen het voordat hy geskors is.
Ewans Marani (28) is twee jaar lank wettig in die land, getroud, en onlangs van sy vrou in Paarl-Oos vervreem.
Marani is Frans magtig, en het na bewering satanistiese webtuistes op die internet besoek.
Marani het Maandagaand om 18:30 by die Jacobs-gesin aangeklop.
“Sy oë was bloedbelope en hy het gebewe en gesweet. Ons het gedink dis van hongerte, toe gee ons vir hom kos aan ons tafel.
“Hy het die heeltyd gevra of dit ons broer se gewoonte was om so laat te kom. Toe is Charles lankal doodgemaak.”
Die gesin het aan Marani gesê hulle sal sy boodskap aan Charles oordra, dat hy hulp nodig het om na sy land terug te keer.
“Dis wat Charles vir almal gedoen het. Hy het gehelp met oproepe na ambassades en verwysingsbriewe van die kerk.”
Charles het nooit getrou nie en het by sy bejaarde moeder, Christina, gewoon.
Sy het met weemoed vertel van haar seun se onbaatsugtige liefde vir ander.
Hulle het jare lank koeksisters gebak en verkoop om geld in te samel vir busvervoer vir die groeiende getal gemeentelede uit Paarl-Oos, toe hul kerk nog in die Hoofstraat in Vrykyk geleë was.
Paul Kruger, takvoorsitter van dié Mormoonse kerk, het Dinsdag verslae voor die kerk gestaan.
“Charles was so saggeaard en sou niemand ooit leed aandoen nie. Hy het altyd vir almal goed gedoen, soos met die groentetuin wat hy hier begin het,” het hy gesê.
Sharon beaam dit: “’n Muskiet en ’n vlieg mag ons nie doodgeslaan het nie. ’n Mier het hy opgetel en buite neergesit.”
Charles word oorleef deur sy moeder Christina, susters Sharon Wyngaard en Sophi-Ann Arries en broers Richard en Ivor.
Die gedenkdiens is Saterdag om 14:00, ná die tuisdiens om 13:00. Inligting oor waar die moordverdagte hom bevind, kan gegee word aan kapt Charles Daniels by 807-4235 of 083-983-0189.
* A custodian was murdered in a church in Paarl East on Monday night.
More
News
|