Dinge raak woes vir Worcester op Wellington
2005-11-03
TWEE uitblinkvertonings deur ’n bouler sowel as ’n kolwer het Saterdag vir Wellington op die Pen Basson-veld die oorhand besorg oor Worcester.
Die besoekers het eerste voor die penne stelling ingeneem en goed gevaar tot op 65/1.
’n Goeie boulsessie deur die draaier, Marnus Hugo, het egter die kolwers gou in ’n wurggreep gehad.
Hugo se 4/11 in 11 boulbeurte het die lopies laat opdroog en danksy Christo Ritter (2/29 in 9bb) en Ryan Groeneveldt (2/32 in 11bb) se hulp die Worcesteriete tot 133 beperk.
Wellington sukkel ook aanvanklik om met die kolf aan die gang te kom. Die tuisspan kon egter staatmaak op die kolfvernuf van Craig Meyer (57), en ’n vasberade vertoning deur Riaan Jephta (19nun) en Christo Ritter (17nun) om ’n vierpaaltjie-oorwinning vir hulle te verseker.
Die sege bring vir Wellington 15 punte in die sak.
Wellington speel Saterdag weg teen Maties op Coetzenburg.
More
News
|