Bergrivier laat Hermanus skrik
2005-11-03
DIE kragmeting tussen die eerste krieketspanne van Bergrivier en Hermanus het Saterdag op Weltevrede vir heelwat twispunte gesorg.
Slegs een skeidsregter moes hier diens doen nadat sy kollega deur Boland Krieketraad opgekommandeer is om te beslis in die SuperSport-wedstryd tussen die Cape Cobras en Dolphins wat op Boland Park gespeel is.
Volgens Bergrivier Krieketklub se voorsitter, Jerry Seale, het die “raaiselagtige beslissings” van die “onervare” skeidsregter Pieter Bergh daartoe gelei dat die groot skare in ’n bakleiery en vloekery onder mekaar betrokke geraak het.
Die vyf been-voor-paaltjie-beslissings wat hul kolwers terug pawiljoen toe laat stap het, het die Bergrivier-toeskouers warm onder die kraag gehad.
Kwaliteit krieket is egter deur albei spanne opgelewer.
Die besoekers het ’n pragtotaal van 302/4 aangeteken nadat hul aanvangspaar Rejean Botha (100 4x16, 6x1) en Phillip van Vuuren (78 4x5, 6x2) ’n vennootskap van 177 om die eerste paaltjie aangeteken het.
Marquin Julies (2/68) was die enigste tuisspan-bouler wat sukses met die bal kon behaal.
Die tuisspan was deurlopend in beheer van die spel en hul vennootskappe wat hul opgebou het, het Hermanus onder groot druk geplaas en by tye met skitterende spel vorendag gekom.
Dit was veral Darren Isaacs (67 4x9, 6x1) en die kaptein, Marquin Julies (62 4x8, 6x2), wat die skare rasend gehad het.
Dié twee het ’n vennootskap van 117 binne 62 minute aangeteken.
“Was dit nie vir die been-voor-paaltjie-beslissings nie, kon ons maklik gewen het,” het Seale gesê.
Fabian Arendse (44 4x7), Morné de Vries (29 4x5) en Kurt Carolissen (26 4x4) was die ander kolwers wat daartoe bygedra het dat Bergrivier hul hoogste telling van die seisoen 273/9 kon aanteken.
Wayne Truter (4/66) was Hermanus se beste bouler.
Bergrivier II (190) het op Hermanus hard slae gekry toe hulle met agt paaltjies verloor het.
Sondag was die tweede span weer aan die ontvangkant toe Van der Stel II (261) hulle met 137 lopies geklop het.
Bergrivier I en II speel Saterdag albei weg teen Stellenbosch en Distrikte.
More
News
|