Boland Korfbal-juniors behaal gou welslae
2005-11-03
DIE Boland Korfbal Unie se toetrede tot die nasionale junior toernooi vroeër vanjaar is met groot welslae begroet.
Die Boland Unie het vanjaar vir die eerste keer in sy vyfjarige bestaan vier spanne - ’n seun- en meisiespan in elk van die o.13 en o.17 ouderdomsgroepe - ingeskryf vir die SA Skole Toernooi wat in September in Magaliesburg gehou is.
Die potensiaal van die plaaslike junior spelers het duidelik na vore gekom toe die onderskeie SA Skolespanne aangekondig is.
Die een Boland-span wat veral uitgeblink het, is die o.17 seunspan wat ’n brons by die toernooi gewen het.
Agt van die nege spelers in die span is in een of ander nasionale span opgeneem.
Reinhardt van Huyssteen is in die SA o.17 Uitnodigingspan ingesluit, terwyl Ian Viviers en Jeidi Ruiters deel uitmaak van die SA Skole o.17-span.
Christo Zietsman, Rubert Schoeman en Ruan Seroot (wat ook as die kaptein verkies is) is in die SA Skole o.15 Uitnodigingspan opgeneem.
Bradley Goliath en Darryl Theron is onderskeidelik in die SA Skole o.15 en Ussasa o.15 korfbalspanne opgeneem.
Dit is beslis ’n groot prestasie as daar in ag geneem word dat die spanne gekies is uit 1000 spelers in die betrokke ouderdomsgroep.
Die spanne het reeds vertoonwedstryde in Kemptonpark en Brits gespeel.
“Die Boland het 43 kinders na die SA toernooi gestuur en 23 is in die SA-spanne van hul onderskeie ouderdomsgroepe opgeneem.
“Ons skryf hul sukses toe aan die intensiewe afrigting wat ons senior spelers aan die jong klomp gee,” sê Hennie de Bruyn, voorsitter van die Boland Korfbalunie.
More
News
|