Eerste sege vir Paarl
2005-11-03
DIE Boland klubkrieketkampioen, Paarl Krieketklub, het Saterdag sy eerste sege van die seisoen behaal toe hy vir Pniel Coronations met vier paaltjies geklop het.
Op Pniel was dit die tuisspan wat eerste die kolf opgeneem het nadat Novel Paarl die loot gewen het.
Coronations is op 58/5 kniediep in die moeilikheid nadat Ultalyn Ernstzen (2/23 in 12bb) en Clint Philander (2/34 in 10 beurte) albei vroeg ’n deurbraak maak en van die top-orde kolwers terugstuur pawiljoen toe.
Theo van Wyk (75 4x6, 6x3) en C Mentoor (22 4x1) sorg vir ’n vennootskap van 68 lopies om Coronations se kolfbeurt weer op koers te kry.
Die tuisspan is egter reeds in die 43ste boulbeurt almal terug in die pawiljoen met die telling op 168 lopies nadat Zurich Muller (2/19 in 7bb) en Faghrie Jacobs (3/36 in 11bb) die laaste vyf paaltjies laat kantel.
Paarl se openingskolwer, Anwell Newman, begin goed vir die besoekers en teken 32 lopies aan wat drie grenshoue en ’n ses insluit. Met Paarl se telling op 54/2 in die 13de boulbeurte sluit kaptein Lynal Jansen (43 4x4) by Elrick Jansen aan en moker hulle 74 lopies voor die derde paaltjie met 132 lopies op die telbord in die 38ste beurt kantel.
In ’n bestek van drie boulbeurte verander die telbord van 132/2 na 148/5 toe Lynal Jansen, Bobby Nicholson en Hilton Solomon op ’n streep hul paaltjies verloor.
Elrick Jansen (65 4x9) en Muller (11nun) sorg egter dat die verdedigende kampioen die wenlopies in die 42ste boulbeurt aanteken.
Coronations se Freddie Hendricks (3/52) en Andrew Cyster (3/24) het aan die einde van Paarl se kolfbeurt die paaltjies laat kantel. Saterdag speel Novel Paarl weg teen die span van Vredenburg/Saldanha.
Paarl II (233/4) klop hul eweknie van Coronations (132/10) met 101 lopies, danksy ’n wonderlike beurt deur Wade Anderson (105 4x11).
Hy is goed bygestaan deur Lindsay van den Berg (27 4x4) en Cameron Cupido (64 4x6, 6x4).
Paarl se Wayne Minnies (4/38 in 15bb) en Hein Adonis (3/25 in 12bb) knoop die kolwers se sterte en sorg saam met Lyndon Fredericks (2/25 in 9bb) dat Coronations se kolwers in die 44ste beurt almal terug in die pawiljoen is
Paarl III (281/5 in 50 beurte) klop Van der Stel (268/10) met 13 lopies.
Elrico Matthee (52 4x6), Graham Adams (44 4x3), Peter-John de Villiers (62 4x9, 6x1) was Paarl se beste kolwers, terwyl die ekstras-kolom die grootste bydra van 80 lopies gemaak het.
Matthee (3/38), Rozario Fourie (2/25) en Elton du Plessis (2/54) is die boulers wat die paaltjies geneem het.
Paarl II speel tuis teen Vredenburg/ Saldanha II en Paarl III weg teen Paarl-Oos op New Orleans. Paarl IV speel weg teen Klapmuts I.
More
News
|