Tusen twee vure (editorial)
2005-11-10
UITVOERENDE RAADSLEDE van Drakenstein Munisipaliteit is diep in die knyp. Indien hulle die belange van die werknemers en publiek op die hart dra, sou hulle al lankal ’n munisipale bestuurder aangestel het.
Onderhoude is reeds in Junie afgehandel en die kortlys opgestel.
Maar toe bars die bom - Ebrahim Rasool verloor die provinsiale beheer van die ANC in die Wes-Kaap, en die nuwe leier, Mcebisi Skwatsha, hou nie van hul keuse van munisipale bestuurder nie.
En om alles te kroon, is dit verkiesingstyd. Vergaderings om kandidate vir elke wyk aan te wys, word tans gehou. En die Skwatsha-faksie is in beheer.
Kan ’n mens, indien jy graag jou posisie in die uitvoerende komitee (en die vet salaris daarby) wil behou, die provinsiale grootkoppe kwaad maak?
Kan jy bekostig om vas te skop en te sê Drakenstein gaan die munisipale bestuurder aanstel wat hy wil hê, nadat R180 000 op die aanstellingsproses uitgegee is?
Of gaan jy maar gedwee instem om die hele proses te herhaal, soos wat die provinsiale bestuur van die ANC eis? En die belastingbetalers nog ’n R180 000 uit die sak jaag?
En al die oorwerkte amptenare dwing om nog ses maande te wag vir ’n nuwe bestuurder?
Ons ken mos die antwoord: die eie ek, die goeie inkomste, die behoud van mag, is veel belangriker as gesonde finansiële bestuur en etiese optrede.
More
News
|