Stryd teen vlieë eindig steeds nie
2005-11-10
EK rig die skrywe na aanleiding van my stryd teen vlieë. Ons bly al die afgelope 14 jaar op ’n plaas in Klein Drakenstein. In al die jare kon ek twee keer my huis se vensters en deure in die dag oopmaak.
Die eerste keer was ’n paar jaar gelede tydens ’n Desembermaand, toe die eienaar van ’n nabygeleë pluimveeplaas se dogter getrou het. Haar onthaal was op die terrein gehou.
Of dit enige verband hou met die feit dat ons tydens dié tydperk nie las van vlieë gehad het nie, weet ek nie.
Die tweede keer was verlede jaar toe daar ondersoeke in die pluimveemishope gedoen is deur die Munisipaliteit in samewerking met die Universiteit van Stellenbosch.
Daar is in die jare al derduisende rande bestee aan oproepe (om te kla), vlieëgif, benattingsmiddels, lokaas, “Red Tops”, taai stroop, siwwe en nette vir voor die vensters en deure ensomeer.
Dit is ’n gesondheidsprobleem en ons kan nie meer met die gif en die vlieë saamleef nie. Wat moet ons nog doen of hoe lank moet ons nog wag voor die ongesonde toestand opgelos gaan word?
Ontevrede
’n Woordvoerder van die gesondheidsafdeling van Boland Distriksraad reageer: Op sommige van die plase waarna klaer verwys, word daar reeds vir meer as 30 jaar met hoenders geboer. Sedertdien is daar meer moderne hoenderhokke opgerig en het daar ’n vermeerdering in die getalle hoenders plaasgevind.
Die klagtes wat deur die Raad ontvang word oor vliegprobleme, word telkens ondersoek en daar word met die eienaar en bestuurders van die onderskeie plase geskakel, ten einde vliegbeheer toe te pas. Verlede jaar is die dienste van die Departement van Entomologie van Univeriseit van Stellenbosch bekom, wat twee reekse ondersoeke gedoen het oor die hoë vlieg voorkoms in die omgewing, wat veral in die vroegsomer ondervind word.
’n Opvolgondersoek word beplan wat eersdaags deurloop gaan word waarna toepaslike optredes oorweeg en uitgevoer gaan word.
More
News
|