Waterbeperkings is nie streng genoeg
2005-11-10
DIE Drakenstein munisipale raad het verlede week die versagting van waterbeperkings goedgekeur. Ons kan nou blykbaar elke dag tuin natlei tot 10:00 en na 16:00 in die middag.
Ek dink 16:00 is heeltemal te vroeg om te begin natlei op ‘n warm dag en die beperkings behoort te geld tussen 10:00 en minstens 17:00 indien nie later nie.
Hoekom is Drakenstein se ure dan nie dieselfde as Kaapstad nie, wat tot 17:00 moet uithou?
Ontevrede
Die Waarnemende Munisipale Bestuurder, Khaya Mrali, reageer: Drakenstein Munisipaliteit het reeds in 1998 ‘n water-aanvraagbestuursprogram ingestel, met groot sukses. In die Paarl en Wellington word tans ongeveer 9400 megaliter water per jaar minder gebruik as 6 tot 7 jaar gelede (‘n jaarlikse besparing van 43%). Dit is ten spyte van die dorpe se groei en ontwikkeling, en is ongeëwenaard in die Wes-Kaap.
Bogenoemde is tot ‘n groot mate te danke aan die verantwoordelike optrede en goeie samewerking in die algemeen van verbruikers.
Dit word vertrou dat dieselfde verantwoordelikheid steeds deur verbruikers aan die dag gelê sal word na die verslapping van die waterbeperkings.
Deur besproeiing van 16:00 af toe te laat, word ‘n meer billike geleentheid gebied aan instansies waar mense byvoorbeeld slegs kantoorure op die perseel is. Verbruikers se goeie oordeel sal egter altyd ‘n rol moet speel.
More
News
|