Wie gee om vir Meerlust Bosbou?
2005-11-10
Lise Beyers
NIEMAND wil verantwoordelikheid aanvaar vir die huise by die voormalige bosboudorpie Meerlust in Groot Drakenstein nie.
So verwaarloos is die 32 houthuise daar, dat mense sommer dwarsdeur die vloere val.
Rozine Petersen is onlangs beseer toe een van die vrot plankvloere ineengestort het. Haar man, Errol Petersen, is lig beseer in die voorval.
Volgens Errol was hulle rustig in die kombuis besig toe ‘n vloerplank skielik onder sy vrou meegegee het.
“Ons moes ‘n uur lank spook om haar te bevry, en het selfs ’n boor gebruik om die been uit te kry. Dis ook nie die eerste keer dat dit gebeur nie”.
Die huise by Meerlust Bosbou is reeds jare lank erg verwaarloos en die huurders sit met hul hande in hul hare.
Tot vier jaar gelede was hulle onder die bestuur van Cape Nature wat “goed omgesien het” na dié eiendomme.
Intussen het die verantwoordelikheid van die bestuur van die huise verskuif na die Departement van Openbare Werke, wat oënskynlik nie veel doen om die lot van die inwoners te verbeter nie.
Volgens Diaan Dreyer van Cape Nature het daar die afgelope vier jaar ’n dispuut geheers oor wie verantwoordelik is vir die onderhoud van die geboue.
Errol Petersen sê dat die inwoners heeltemal onseker is oor wie tans die eienaars van Meerlust Bosbou is en dat hulle in haglike toestande leef.
“Daar word nie eens meer huur by ons afgehaal nie, terwyl ons heeltemal bereid is om dit te betaal.”
‘n Inwoner van die dorpie wat reeds 11 jaar daar woon, Maureen van Rooyen, het gesê dat die huise tans nie net in ’n swak toestand is nie, maar dat hulle ’n groot brandgevaar inhou.
Soms sit hulle dae lank sonder water en die kragtoevoer is in so ’n swak toestand dat hulle ook ’n gevaar kan wees, veral vir die kinders wat daar rondspeel.
Planne van die owerhede om ’n laekostewoongebied daar te ontwikkel, is reeds geruime tyd in die pyplyn, maar sloer tans weens teenstand deur omringende plaaseienaars.
Die Departement Openbare Werke het nie gereageer op versoeke om kommentaar nie.
* Residents of Meerlust forestry village have no one to pay rent to, or to turn to for repairs to their houses, owned by the Department of Public Works.
More
News
|