‘Kaping’ het nadraai vir gekaapte
2005-11-10
’n JONG man se draai in Delft met kapers agter die stuur van sy motor, het verlede week ’n nadraai in die hof gemaak, toe hy deur die polisie van Klapmuts van regsverydeling aangekla is.
Niklaas Janse van Rensburg (26) van Stellenbosch het die Sondagmiddag sy motor as gekaap aangegee. Hy was glo erg getraumatiseer na die voorval.
Van Rensburg het ’n verklaring afgelê dat sy motor die Saterdagnag by die vierrigtingstop in Klapmuts geroof is. Hy het glo ’n geleentheid na Stellenbosch gekry, en toe ’n dag later eers tot verhaal gekom.
Polisie het die motor in Delft opgespoor en begin ondersoek instel na die beweerde kaping.
Daar is vasgestel dat Van Rensburg die aand in die Paarl gekuier het en toe dalk met vriende na Athlone en verder in sy motor na ’n smokkelhuis in Delft gery het.
Die volgende oggend het hy nie geweet waar sy motor was nie. Hy het ’n geleentheid na sy woning in Stellenbosch gekry en byna 20 uur later die beweerde kapingsaak by die Klapmuts polisie gaan aanmeld.
Twee motors het hom glo uit die Paarl gevolg en by die stop voorgekeer. Hulle sou ’n vuurwapen op hom gerig het, hom van kontant beroof het, en met sy motor weggery het.
“Sulke bewerings laat dit voorkom asof Klapmuts ’n gevaarlike plek is, en dit is nie so nie,” het speurhoof insp Sammy Cupido gesê.
“Ons sien die aantygings in ’n baie ernstige lig en mense wat valse verklarings aflê, sal beslis aangekla word.”
* A man is being prosecuted for defeating the ends of justice, claiming he had been hijacked.
More
News
|