Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


'Kies jou vriende versigtig'

'Kies jou vriende versigtig'
 
2005-11-10

Malané Bosman

DIS soos ’n kanker wat aan haar vreet, dat die man met wie sy getrou het, ’n vredeliewende kerkmens oënskynlik sonder rede met ’n tuinskêr kon vermoor het.

So praat ’n bewerige kleuterskoolonderwyseres van Paarl-Oos oor die Keniaan van wie sy twee maande gelede vervreem is.

Ewans Marani (28) is Donderdag in hegtenis geneem en aangekla van die moord op die koster van die Mormoonse kerk in Klein Drakensteinweg, Charles Jacobs (54).

“’n Mens moet jou vriende met sorg kies, en as jy besef daar is fout, moet jy uit die verhouding kom. Ek is nie nou sterk genoeg nie, maar eendag sal ek my hart oopmaak oor die hel wat my huwelik was,” het die mooi-jong vrou gesê.

Jacobs, die oujongkêrel wat in die gemeenskap bekend was vir sy warm glimlag en goeie dade, is Saterdag uit dieselfde kerk waar hy jare lank gewerk en toe verlede Maandag vermoor is, ter ruste gelê.

Terwyl Jacobs se hartseer familie deur ’n skare by die gedenkdiens ondersteun is, het speurders die vermeende moordenaars in die polisieselle ondervra.

Jacobs het Maandagaand verlede week beswyk nadat hy sy moordenaars in die kerk ingelaat het.

Hy is met ’n langsteel snoeiskêr aangeval voordat die liggaam in ’n pakkamer gelaat is, sy hande agter sy rug vasgemaak en met diep wonde in die kop en sye.

Met leidrade op die toneel en inligting van die publiek, was die polisie byna onmiddellik op die spoor van die beweerde moordenaar (met die koster se selfoon) en ’n moontlike medepligtige in besit van DVD-spelers wat uit die kerk gesteel is.

Marani en Selwyn Adonis (23) is Donderdag in ’n opslaanhuis in die Chester Williams plakkerskamp in Amstelhof in hegtenis geneem.

Verklarings is later van nog kennisse van dié makkers geneem, en arrestasies vir die besit van gesteelde eiendom is nie uitgesluit nie.

Maandag is Marani en Adonis in handboeie en met baadjies oor hul koppe getrek, uit die polisieselle na die landdroshof gelei.

In die hof het landdros Genie Jacobs vir Marani beveel om die baadjiekep wat hy steeds diep oor sy oë getrek gehou het, af te haal.

Hy het kalm en aandagtig na die landdros geluister.

Hy het ’n prokureur, het hy gesê, maar gaan vir regshulp aansoek doen.

Alhoewel sy moedertaal KiSwahili is, is hy elf tale magtig, het hy gesê, en sal hy die hofverrigtinge in Engels kan volg.

Landdros Jacobs het egter voorgestel dat ’n KiSwahili tolk aangestel moet word.

Sy beweerde medepligtige, die skraal Selwyn Adonis (23) van Desmorestraat, Paarl-Oos, het onrustig uit die beskuldigdebank in die hof rondgekyk terwyl sy prokureur, Chris Nel, in sy oor gepraat het.

Soos Marani ’n konstruksiewerker was met die aanbou van die Paarl Mall, was ook Adonis ’n algemene handlanger.

Voordat die beskuldigdes na die hofselle teruggelei is, het Marani stip na die besoekersbanke gekyk, waar lede van die Jacobs-gesin mekaar ondersteun het.

“Die moordenaar is ’n gevalle engel,” het sy suster Sharon Wyngaard vroeër die week by die Jacobs-woning in Kolbestraat gesê.

Dis waar Marani die aand van die moord natgesweet en bewend aangekom het, en ’n bord kos aangebied is omdat hy vir die sagmoedige Jacobs-gesin honger gelyk het.

Dié man, wat twee jaar gelede in die Paarl aangekom het as sendeling uit Kenia, het as ouderling by die Mormoonse Kerk aangesluit.

Hy is uit die Church of Jesus Christ of the Latter-Day Saints in Klein Drakensteinweg geskors toe daar vasgestel is dat hy nie bewys kon lewer dat hy ’n ouderling is nie.

Die saak is tot Maandag uitgestel vir verdere polisie-ondersoek. ’n Borgaansoek sal moontlik ook dan gebring word. Die verdagtes word in Allandale gevangenis aangehou.

* The alleged murderers of a Paarl East church custodian have been arrested.



More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za