Oud-spelers wil help
2005-11-10
’n GROEP plaaslike oud-rugbyspelers beoog om ’n liggaam te stig wat oud-spelers behulpsaam kan wees.
Die idee van die Paarliet Gordon Mitchell, wat op sy dag vir die Young Peoples Rugbyklub, Paarl Liga, WP Liga, SA Platteland en die SA Pioniers (SA B-span) spanne uitgedraf het, het vorm begin kry nadat sy ou vriend Rudolf Paulse siek geraak het.
Paulse is in April vanjaar in die hospitaal opgeneem nadat sy hartspier ingegee het.
Benewens sy swak gesondheid het Paulse se werk ook in die slag gebly tydens ’n personeelvermindering.
Gevolglik het die finansies begin knyp en het die Paulse-gesin ’n moeilike tydperk in die gesig gestaar.
Dit is toe dat Mitchell, tesame met Aubrey Noble en Tommy Fortuin begin beplan aan ’n rugbywedstryd ten bate van dié oud-speler wat op sy dag vir Riverstones, Paarl Liga, WP SA Federasie en SA Voerder-span gespeel het.
’n Idee wat Mitchell en sy reëlingskomitee met groot sukses deurgevoer het.
’n Bedrag van R10 000 is ingesamel en verlede week aan Rudolf en sy vrou Moira oorhandig.
“Ons het dit gedoen uit vriendskap en uit kameraadskap, om jou by te staan,” het Mitchell vir Paulse gesê.
“Dit wys wat kan gedoen word as jy vir ’n saak staan. Vanaand is nie ’n afsluiting maar die begin van ’n doelgerigte projek.”
“Ons wil die idee om oud-rugbyspelers te help, vorentoe vat. Daar is ’n tekort vir bystand vir oud-spelers,” het hy gesê.
Paulse wat verlede jaar nog vir Paarl Rugbyklub se eerstespan afgerig het, en sy vrou het by wyse van ’n kaartjie elkeen van die komiteelede persoonlik bedank.
“Ons is vriende in die game en dit was iets groot om saam met julle rugby te speel,” het Paulse gesê.
Hy het ook die hoop uitgespreek dat dít wat uit sy nood gebore is, sal voortgaan om ook ander oud-spelers van hulp te wees.
Hy het homself dan ook beskikbaar gestel om voortaan op die komitee te dien.
Volgens Gordon is daar reeds samesprekings met die Suid-Afrikaans Rugby Unie (Saru) onderweg om ’n amptelike liggaam te vestig wat fondsinsamelingsprojekte sal reël vir behoeftige oud-spelers in die Wes-Kaap - iets soortgelyks aan die Pedro Jackson/Chris Burger Fonds.
“Ons wil die projek ook gebruik om die twee groepe spelers wat destyds vir die Suid-Afrikaans Rugby Unie (Saru) en die Suid-Afrikaanse Rugby Federasie (Sarf) gespeel het, weer bymekaar te kry. Die bagasie van die verlede het te swaar geword.
“Ons wil dié twee groepe spelers weer bymekaarkry en hulle laat saamwerk om iets opbouends te skep ter ondersteuning van die gemeenskap.
“Daar is ’n behoefte aan dit en ons het ’n proe van so ’n saamwerk-aksie gekry met die samestelling van die Winelands Warriors span wat in 1999 aan die Veterane Wêreldbeker Rugbytoernooi deelgeneem het,” sê Mitchell.
Sowat 1100 toeskouers het twee weke gelede op die Faurestraat Stadion die wedstryd tussen ’n Paarl Streekspan en die Wes-Kaapse Uitnodigingspan aanskou.
Goeie kwaliteit rugby is opgedis, met ook die veterane-spelers wat gewys het dat hulle nog ’n ding of twee op die veld kan doen.
Die Paarl-span het die kragmeting 24-17 gewen met Tino Prins, Roderick Allies, Jenovin Cornelissen en Alvin Hugo wat drieë gedruk het. Mark Kruger was suksesvol met twee doelskoppe.
Vir die Wes-Kaap span het Ashley Johnson, Elgar Watts en Ashwin Shields gedruk, terwyl Erroll Tobias (jnr) ’n doelskop oorgesit het. Johnson ’n oud-Gimmie en deesdae 'n Maties speel, is as speler van die wedstryd aangewys.
More
News
|