Reën het laaste sê in Paarl-Oos wedstryd
2005-11-10
REëN het Saterdag bygedra tot die onbesliste uitslag van die wedstryd tussen Paarl-Oos Krieketklub en Worcester United op Worcester.
Die tuisspan stuur die Paarliete in om te kolf nadat hulle die loot wen. Die besoekers sukkel om met die kolf te domineer en teken 175 lopies aan.
Tiaan Cloete (32 4x6), Bruce Miller (47 4x8), Jackie Daniels (21 4x2) en Craig Abrahams (34 4x5) het met die wilgerlat ingeklim. Worcester United se Bardo Fransman (4/45) en Terence Esterhuysen (4/35) het die kolwers gekasty.
Die tuisspan vorder tot 115/7 voordat reën ’n einde aan die wedstryd bring.
Selwyn Pretorius (28 4x5), André Cuttings (26 4x2), en Nolan Loff (37 4x4) was die tuisspan se voorste lopiemakers.
Paarl-Oos se boulaanval is deur Dennis November (3/22 na 15bb), Elroy Abrahams (2/19 na 8bb) en Justin Watts (2/11 na 7bb) gelei.
In die Paarl het Paarl-Oos se tweede span meer sukses behaal en vir Worcester United II met drie paaltjies geklop.
Die besoekers behaal 193, met D Pienaar (72 4x5), R Engelbrecht (29 4x5), J Amsterdam (33 4x4) en G Cupido (23) wat lopies kry. Godfrey Linee (3/45 na 11bb), Neels Engelbrecht (2/29 na 8bb), Zynodien Fredericks (2/26 na 14bb) en Kurt Julius (3/10 na 4bb) boul goed.
Die tuisspan behaal die teiken danksy ’n uitblink-beurt deur Mario de Kock.
Sy 70 het nege grenshoue en twee sesse ingesluit. Fredericks (21 4x3) en Wilton van Neel (27 4x4, 6x1) het ook elkeen ’n skaflike beurt gespeel.
Paarl-Oos III het maklik met Paarl afgereken nadat dié ’n skamele 76 lopies kon aanteken.
Garland Goliath (3/19 na 8bb), Urchil Duminy (3/28 na 10bb) en Adli Basson (3/22 na 6bb) was Paarl-Oos se beste boulers.
Rickie Pietersen (17) en Eon Alexander (18nun) het Paarl-Oos na die wentotaal gehelp.
G Adams (24) en M Adams (2/22 na 4bb) was Paarl se enigste uitblinkers.
Paarl-Oos I (weg) en II (tuis) speel Saterdag teen Maties.
More
News
|