Wat bly oor as sulke mense vry is?
2005-03-24
EK verwys na die moord op Wanda Neethling.
Ek wonder of alle voorskrifte met betrekking tot parool streng nagevolg is in die geval van die verdagte wat na Lisbe Smuts-Smith se moord gearresteer is en dat die Paroolraad oortuig was dat die toestaan van parool aan die gearresteerde na meer as 20 vorige veroordelings, geregverdig was.
Die twee verdagtes wat na die moord op Wanda Neethling gearresteer is, was op borgtog van R300 vry na aanklagte van moord en die besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen.
Omdat ek nie die feite van die geval ken nie, moet ek aanvaar dat die SAPD geregverdig was in hul vorige arrestasie van hierdie mense.
Ek moet ook aanvaar dat hul die toestaan van borgtog in die lig van die erns van die beweerde oortredings, heftig teengestaan het.
Maar daardie aangeklaagdes, wat nou verdagtes is in die moord op Wanda Neethling, het sekerlik geen vorige veroordelings gehad toe die voorsittende beampte die aansoek om borgtog oorweeg het nie, of indien wel, is daardie vorige veroordelings nie onder die voorsittende beampte se aandag gebring nie.
Maar indien daardie mense wel vorige veroordelings gehad het en dit wel onder die voorsittende beampte se aandag gebring is, dan is ons baie naby aan die tydstip waar die neem van reg in eie hande die enigste oorblywende opsie is.
Ek hoop nie ek beleef dit nie, want ek dink die beskerming van menseregte gaan dan nie baie hoog op die prioriteitslys wees nie. Ek is 'n bekommerde inwoner van die eens rustige en mooi skoon Wellington.
Hugo Slabber
More
News
|