Tiere verdedig kwaai
2005-11-10
IN ’n baie karaktervolle vertoning het die eerste krieketspan van Young Peoples Saterdag vir Hermanus met vyf lopies geklop.
Dit was een groot kopseer vir Peoples op die Hermanus-blad en die besoekers word vir ’n skamele 76 lopies uitgehaal.
Die angel in Hermanus se boulaanval was Gerrie Ferreira (3/23 in 9bb), Daniel Childs (3/20 in 10bb) en Wayne Truter (3/6 in 3bb).
Slegs Andrew Victor (20 4x4) en Quinton Kannemeyer (18 4x3) kon dubbelsyfer-tellings vir Peoples aanteken.
Tog het die besoekers nie moed opgegee nie en met skitterende boul- en veldwerk die tuisspan tot 71 lopies beperk.
Die vernietigende boulwerk deur Gercian Gabriels (4/22 in 15bb), is goed ondersteun deur Lester Opperman (2/38 in 9bb) en Lorenzo Jacobs (3/6 in 5bb).
Brendon Gabriels verdien ook ’n pluimpie vir sy goeie veldwerk wat drie vangskote en ’n skitterende uithardloop ingesluit het.
Peoples II het Sondag ook na Hermanus gereis en met vasberade spel ’n onbesliste uitslag afgedwing.
Die wedstryd is deurgaans deur reën onderbreek en die spanne se beurte is na 52 verminder.
Hermanus behaal 236/7 danksy Mark Robey (59 4x6) en Philip Oliphant (41nun 4x4, 6x2) se goeie bydraes.
Jarier Alexander (4/55 in 15bb) en Marlin Carolissen (3/67 in 15bb) het Peoples se boulaanval gelei. Peoples se beurt kom tot ’n einde met die telling op 221/6.
Alexander (55 4x9), Melvyn Jackson (49 4x7, 6x1), Alec Dysel (47 4x6) en Ainsley Anderson (21nun 4x3, 6x1) het hulself met die kolf laat geld.
Peoples III (220) het op Daljosafat Stadion vir Oostelikes III (155) met 65 lopies geklop.
Hilmer Paulse (60 4x11, 6x1), Hugo Smith (27 4x4), Henley Julies (25 en 6/35 in 10bb) en Marvin Nicholas (2/29 in 9bb) was Peoples se uitblinkers.
Saterdag speel Peoples I (tuis) en II (weg) teen Stellenbosch/Distrikte. Die derde span speel weg teen Van der Stel en Sondag speel Peoples II tuis teen Van der Stel.
More
News
|