Wellingtonners skitter
2005-11-10
TWEE Wellingtonse wyne was onder die 2005 Absa Top 10 Pinotage Kompetisie wat onlangs aangekondig is en waarvoor 120 wyne ingeskryf was.
Wamakersvallei, het weer hul meesterskap met Suid-Afrika se uniek-tuisgekweekte rooiwynvariëteit bewys. Hulle het vir die vierde jaar agtereenvolgens presteer met ‘n wenwyn uit hul La Cave reeks.
Diemersontein het vir die tweede keer geskitter met hul Carpe Diem Pinotage 2003.
Die ander Absa Top 10 wenwyne is Devon Hill Pinotage 2002 (Erhard Roux), Kanonkop Pinotage 2003 (Abrie Beeslaar), Klein Tulbagh Pinotage Reserve 2003 (Elsabé le Roux), Longridge Pinotage 2003 (Kobie Viljoen), Manley Pinotage 2004 (David Jordan), Simonsig Red Hill Pinotage 2003 (Debbie Burden), Somerbosch Pinotage 2004 (Marius en Japie Roux) en Stellenzicht Golden Triangle Pinotage 2003 (Guy Webber).
Met die rekord aantal inskrywings was dit verrassend dat die top tien wenners uit net drie distrikte en wyke kom. Ses van die wenners is Wyne van Oorsprong Stellenbosch: Devon Hill, Kanonkop, Longridge, Simonsig, Somerbosch en Stellenzicht; twee is Wyne van Oorsprong Wellington: Diemersfontein Carpe Diem en La Cave (Wamakersvallei); en twee is Wyne van Oorsprong Tulbagh: Klein Tulbagh en Manley Private Cellar.
Ses van die gekeurde wyne is van die 2003 oesjaar en dit is die eerste keer dat wyne ouer as twee jaar die meerderheid is.
Dit bevestig die gevolgtrekking wat wynprodusente en wynkenners by die 2003 Pinotage Oesjaarproe gemaak het dat dit een van die beste oesjare vir Pinotage die afgelope twintig jaar is.
Die tien naaswenner wyne onder die twintig finaliste was Boland Kelder Winemakers Selection 2003, Fairview Pinotage 2004, Môreson Pinotage 2004, Clos Malverne Pinotage Reserve 2002, Jacobsdal Pinotage 2002, L’Avenir Pinotage 2004, Pulpit Rock Pinotage 2004, Villiera Pinotage 2003, Spier Private Selection Pinotage 2003 en Wildekrans Barrel Selection Pinotage 2003.
Vier internasionale wynkenners, Michael Vaughan van Kanada, John Walker van die VSA, Peter May van Engeland en Suid-Afrika se Dave Hughes, was ingesluit in die paneel van sewe beoordelaars.
Hierdie internasionale verbintenis is geskep om ‘n aanduiding te kry van watter styl Pinotage wyne oorsese wynliefhebbers verkies.
More
News
|