Rolprentmaker gesels
2005-11-17
’n SPESIALE filmoggend waartydens historiese dokumentêre rolprente, onder meer oor Afrikaanse skrywers, vertoon sal word, word op Saterdag 26 November by die Afrikaanse Taalmuseum in die Paarl aangebied.
Die rolprentmaker Retief Koch sal oor sy loopbaan en die verfilming van hierdie rolprente gesels.
Dié veteraanvervaardiger van dokumentêre rolprente het sy persoonlike versameling van 40 rolprente op 16mm-film aan die Taalmuseum geskenk.
Die rolprente dateer van die middel sestiger- tot die laat sewentigerjare en handel oor Afrikaanse skrywers, Suid-Afrikaanse kunstenaars en musici, en die geskiedenis van Afrikaans.
Die Taalmuseum het die rolprente op video laat oorplaas en gebruik dit as agtergrondmateriaal tydens skrywersfunksies.
Koch was sedert 1964 by die eertydse Nasionale Filmraad betrokke as maker van ’n reeks dokumentêre rolprente vir staatsdepartemente.
Hy het ook vir skole rolprente oor skrywers en digters gemaak.
Die filmoggend sal ’n terugblik bied op drie Afrikaanse skrywers, naamlik MER, Mikro en PJ Schoeman, asook op die kunstenaar Maggie Laubser - almal bekendes wat Retief Koch deur die jare as filmvervaardiger leer ken het.
Die verrigtinge begin om 09:30 vir 10:00 en sluit ligte verversings, asook ’n gratis toer deur die museum in.
Kaartjies kos R20 en moet vooraf bespreek word by Natasha by 872-3441.
More
News
|