Miernes by die hof
2005-11-17
DIE Paarl landdroshof was ’n miernes Maandag met die verskyning van verdagtes in twee van die mees opspraakwekkende moordsake vanjaar: die satansmoord en die verkragtingsmoord van ’n twee-jarige dogtertjie.
Die dogtertjie se pa, Shaun Arendse (21), kon sedert sy inhegtenisname in Mei nog nie vir borg oorweeg word nie.
Landdros Genie Jacobs wou geen beslissing maak sonder die uitslag van DNA-toetse nie. Daarmee sal bepaal kan word of hy met die moord in sy woning in Impalastraat, Chicago, verbind kan word.
Klein Cameron Chordnum is die Saterdagoggend leweloos uit haar pa se bed gehaal. Daar is met haar na die Paarl hospitaal gejaag, waar sy dood gesertifiseer is.
Shaun is by die hospitaal in hegtenis geneem.
Nadat Shaun drie maande lank in aanhouding moes bly, was die forensiese uitslag (ná die 84 dae benodig vir toetsing) onvolledig.
Daar is verduidelik dat die DNA van ’n pa en sy dogter soveel punte van ooreenstemming toon, dat dit toetsing bemoeilik.
Die staat het toe versoek dat Shaun sy kortgeskeerde hare moet laat groei om beter monsters vir forensiese toetsing te kry.
Dié haarmonsters is hierdie week, nadat hy weer onder groot belangstelling in die hof verskyn het, geneem.
Die saak is tot 25 Januarie uitgestel en sy moeder Winnie, het met skok besef dat haar seun oor Kersfees in die tronk aangehou sal word.
Terwyl Winnie saam met die ondersoekbeampte, insp Graham Adams, na die polisiestasie is om verdere verklarings af te lê, het ontstoke ondersteuners buite die hof gesê: “Boeta is onskuldig. Ons weet wie die regte moordenaar is.”
Volgens vriende en lede van die Arendse-gesin was daar die aand van die moord nog ’n man in die woning, en na bewering was hy alleen by Cameron terwyl ouma Winnie uit was om vir haar te gaan sigarette koop.
Dié man, ’n skoonmaker by ’n hoërskool in Paarl-Oos, het destyds ’n verhouding gehad met die dogtertjie se ouma.
“Ons wil hê hy moet ook getoets word,” het die hofgangers geëis.
Dié inligting waarmee Shaun-ondersteuners hierdie week vorendag gekom het, word reeds deur die Staat opgevolg.
* Die Keniaan Ewans Marani (28) het ook vlugtig in die hof verskyn. Hy word daarvan aangekla dat hy op die Allerheilige Nag (Halloween) die koster van die Mormoonse kerk in Klein Drakenstein gemartel en toe vermoor het.
Selwyn Adonis (23) van Desmorestraat, Paarl-Oos, word as medepligtige aangehou nadat hy na bewering in besit gevind is van ’n DVD-speler wat uit die kerk gesteel is.
Charles Jacobs (54) het in sy geliefde kerk gesterf. Die moordenaar het eers die woord “Satun” met die bloed van die koster geskryf, en toe met sy selfoon en twee DVD-spelers verdwyn.
Terwyl Charles dood gelê het, het Marani by die huis van die Jacobs-gesin aangekom.
Hulle het die natgeswete, bewende man ’n bord kos aangebied omdat hulle gedink het hy bewe van honger. Terwyl hy geëet het, het hul hond aanhoudend aan sy skoene en broekspype geruik, sou hulle later onthou.
Met die seer vlak in hul oë, het Charles se broers en susters mekaar Maandag by die hof ondersteun.
Hul broer was ’n engel, het hulle weer gesê, wat vir almal goed gedoen het. Charles is “gemartel soos Christus aan die kruis”, hoekom weet hulle nie.
Die gesinslede moes die hof die middag weer verlaat sonder antwoorde.
Prokureur Chris Nel het hom onttrek as Adonis se regsverteenwoordiger en daarna is die borgaansoek uitgestel tot 28 November, om Adonis kans te gun om ’n regshulpprokureur aan te stel.
* Paarl’s magistrate court was abuzz with the appearance of the men accused of murdering a church custodian, and earlier this year, a two-year-old girl.
More
News
|