Huise platgetrap
2005-11-17
DAAR was Dinsdagnag chaos in Fairyland toe ’n vragmotor deur vyf opslaanhuise geploeg het.
Die bestuurder van ’n bakkie wat in die pad van die vragmotor van Anderson Vervoer beland het, is in die stuurkajuit vasgeknel. Die man, Dampie Petersen van Wellington, het in die bakkie gesterf.
Hy was om 22:00 besig om werkers by hul wonings af te laai toe die ongeluk by die inrit na Fairyland uit die Bo-Dalpad gebeur het.
Drie van sy passasiers is beseer, terwyl vier inwoners van die opslaanhuise wat platgestoot is, ook na die Paarl Hospitaal geneem is.
Volgens die polisie en ambulanspersoneel op die toneel, het chaos uitgebreek ná die ongeluk.
Die polisie het hul hande vol gehad om die skare in die donker te beheer en mense te keer wat DVD-spelers en ander waardevolle items uit die platgetrapte wonings wou wegdra.
Ambulansmanne moes die bakkie oopsny om die bestuurder te bevry. Die beseerdes is tussen die hope rommel uitgegrawe en behandel.
“Ek het in my bed gelê en toe ek weer sien, toe lê ek in die ambulans,” het ’n bewerige Angeline Hendricks gisteroggend in die puin van haar woning gesê.
“Dis ’n genade dat hulle lewe - Angeline, haar dogter en haar vyf maande oue kleinkind,” het ander Fairylanders haar ondersteun.
“Sy het nou niks van haar huis oor nie. Nie eens ’n heel koppie of piering nie.”
Die swaar vragmotor kon gisteroggend om sonop, sewe uur ná die ongeluk, eers tussen die opslaanhuise uitgesleep word.
Elektrisiteitswerkers kon toe begin om die kragpaal wat saam met die vragmotor op die wonings beland het en ’n kragonderbreking veroorsaak het, weer te plant.
“Die vragmotors het geen respek vir die mense se huise teen die pad nie.
“Swaar vervoer behoort van die Bo-Dalpad verban te word,” het gemeenskapswerker Amina Petersen gesê.
* A bakkie driver died and seven people were injured when it crashed into a heavy truck which ploughed through shacks in Fairyland on Tuesday night.
More
News
|