Reën kortwiek Paarl se wedstryd
2005-11-17
’n NAT veld het daartoe gelei dat die eerste bal in Saterdag se wedstryd tussen die eerste krieketspanne van Paarl en Oostelikes eers om 12:45 geboul is.
Die wedstryd wat op Kraaifontein gespeel is, is gevolglik verkort tot 40 boulbeurte per span. Paarl verloor die loot en word ingestuur om te kolf.
Die besoekers is in die 16de beurt met hul rug teen die muur, met die telling op 4/49.
Godfrey Stevens (86nun 4x7, 6x2) en Zurich Muller (34nun 4x2) kry hulle egter weer op koers met ’n onoorwonne sesde paaltjie vennootskap van 82 lopies.
Dié goeie kolfbeurt deur Stevens tesame met die ervaring van Muller help dat die Paarliete 169 lopies in hul 40 boulbeurte aanteken.
Akkurate boulwerk deur Clint Philander (0/12 in 6bb) en Anwell Newman (0/10 in 4bb) beperk die kolwers aanvanklik tot 51 lopies in die eerste 17 boulbeurte.
In sy tweede boulbeurt vind Stevens se draaiballe die merk en laat hy drie paaltjies kantel sonder om ’n enkele lopie af te staan.
In die 27ste boulbeurt slaan Paarl se ander draaier, Faghrie Jacobs, ook toe en laat twee kolwers van Oostelikes kleedkamer toe stap.
Die Paarl boulers kon egter nie die uitklophou plant nie en die wedstryd eindig onbeslis.
Sondag se wedstryd tussen Paarl en Hermanus is deur die skeidsregters afgelas, weens 'n nat kolfblad.
Saterdag speel Novel Paarl teen Wellington op die Parys-veld.
Die wegwedstyd tussen Paarl II en Oostelikes II het nie plaasgevind weens ’n onvoorbereide kolfblad.
Die wedstryd tussen Paarl IV (134/3 in 27 beurte) en Wellington III (192/9) het onbeslis geëindig, nadat reën en swak lig die skeidsregters noop om die wedstryd te staak.
Dié naweek speel Paarl II weg teen Wellington II, Paarl III weg teen Brackenfell III en Paarl IV tuis teen Northdene I.
More
News
|