Expo 'n sukses
2005-11-24
DIE eerste Franschhoek Kuns Expo was ’n groot sukses. Vyftien plaaslike kunstenaars het hul werke ten toon gestel.
Die hoogtepunt van die expo was die Saterdagaand, toe verskeie kunstenaars ten aanskoue van die gaste kunswerke binne tien minute moes voltooi.
Dié kunswerke is opgeveil deur akteur Neels van Jaarsveld, wat veral bekend is vir die “met eish” brandewyn-advertensie.
Neels, met ’n keil op, het die hamer laat val en ’n kers is onder meer vir R400 verkoop, ’n skildery deur Jo Roets vir R550 en ’n juwelierstuk geskenk deur Carmen Dreyer vir R800.
Alles het goed verloop, totdat daar geen hande opgegaan het vir ’n pragtige titanium-ring nie.
Dit was angsvolle oomblikke vir organiseerder en kunstenaar, Jo Roets.
“Ek het gedink dat Neels nie die ring verkoop gaan kry nie en dat dit ’n antiklimaks vir die gaste en die liefdadigheidsorganisasie sou wees.”
Die ring is uiteindelik verkoop vir R1200 nadat Neels ’n dop brandewyn “met eish” by die ring ingesluit het!
Die opbrengs van die veiling is ten bate van Franschhoek Youth Empowerment Action, ’n organisasie wat die straatkinders van Franschhoek versorg.
Minnie Peterson, wat haarself grappenderwys as “straatvrou” bekend gestel het, lei die suksesvolle straatkinderprojek op Franschhoek.
Sy het ’n beroep gedoen op die gaste om nie aan bedelende kinders geld te gee nie aangesien dit hulle op straat sal hou.
Mense wat nie by die expo kon uitkom nie en die liefdadigheidsprojek ten bate van straatkinders wil steun, kan steeds dié week donasies gee. Skakel Jo by 082-338-5726.
Die Franschhoek Kuns Expo beloof om ’n jaarlikse gebeurtenis op die Franschhoek kalender te word.
More
News
|