Kaartjies vlieg vir amfiteater
2005-11-24
DUISENDE kaartjies is reeds verkoop vir die Desember-konserte in die Paarl Amfiteater.
Saterdag 3 Desember is die eerste konsert - die Simon & Garfunkel-konsert deur Coleske.
Meer as 60 000 mense het al die optredes in Gauteng bygewoon. Dit is die enigste keer wat dié konsert met ’n vol orkes in Suid-Afrika opgevoer word.
Die duurste beligting tot op hede word vir die skouspel opgerig en besoekers sal vir lank nog oor die konsert praat.
Op Sondag 4 Desember word die Kerskonsert aangebied met Coenie de Villiers, Lucas Maree, Jannie Moolman en Mathys Roets.
Van die mooiste Kersliedere word spesiaal verwerk vir dié eenmalige optrede met ’n orkes.
Drie van die Bestes, Mathys Roets, Kevin Leo en Danie Niehaus neem afskeid op Saterdag 10 Desember.
Die Paarl-amfiteater is in Februarie vanjaar gebruik met hul DVD-opname en die driestuks wat onlangs op Aardklop die top-verkoper was, het die afgelope Sondag hul Gauteng-vriende gegroet in die Pretoria-amfiteater.
Hul laaste optrede saam sal in die Paarl wees. Dié vertoning is ’n nuwe vertoning en moet beslis nie misgeloop word nie.
Kom wees deel van die laaste optrede van die drie wat oor byna 10 jaar saam gehore betower het.
Die drie sal voortaan meer op hul solo-loopbane fokus.
Die Desember program word op23 Desember afgesluit met die Afrikiti-konsert met sterre soos Soli Philander, Nina Swart, HI 5, Rina Hugo en Sibongile.
Talle kos- en wynstalletjies word weer op die berg opgerig en die hekke open reeds om 17:00 met elke konsert.
Alle kaartjies is bespreekte sitplekke van R55 tot R125. Besprekings by 872-1002 of by De Oude Paarl Hotel.
More
News
|