Begraafplaas op Wellington word swak beheer
2005-11-24
DIE Wellington Begraafplaas is ’n groot teleurstelling vir my. Dit is ’n deurgang vir skoolkinders en haweloses, want daar’s geen toesighouer nie. Die hekke word saans gesluit, maar die gate in die draadomheining is so groot dat jy ’n trop skape daardeur kan jaag.
Daardie grond waar ons geliefdes neergelê word, is nie verniet nie.
Moet nie eens praat van sommige munisipale werkers wat moet sorg dat grafte oopgemaak en uitgebou word nie.
My broer is die Saterdag oorlede. Dinsdagoggend koop ons die grond en reël vir die grawe en uitbou van die gat. Teen Woensdag is nog niks gedoen nie en die familie moes inspring om werk daarvan te maak.
By die begrafnis die Saterdag was die bouwerk aan die dubbel-graf nie voltooi nie. Ons moes oor planke loop om die kis in die gat te laat sak. Die Sondag was die gat nie behoorlik toegegooi nie, net die blad bo-op om die kis te bedek.
Die Maandag het my ouers die man in beheer gaan spreek, maar sy antwoord was dat hy nie sy mense soos slawe wil laat werk nie. Ons ook nie, maar ons het betaal.
Later vind ons uit hy vra R300 per werker vir hul diens, maar hulle kry R180. Die res vat hy, terwyl hy ’n salaris by die munisipaliteit kry vir die werk wat hy doen.
Die munisipaliteit kan sekerlik nuwe drade om die begraafplaas span en ’n toesighouer kry wat vandalisme help beheer.
Haal die advertensieborde af van die drade oor die spitbraai. Dit sal verstaanbaar wees as die gelde daarvoor verkry as donasie gebruik kan word vir ’n nuwe draad.
Ontevrede
Die waarnemende munisipale bestuurder reageer: Drakenstein Munisipaliteit het nog nooit die diens gelewer van grafte uitbou nie. Dit is dus duidelik dat hier die moontlikheid van ongerymdheid bestaan. Daar is reeds met ’n interne ondersoek begin teen die persoon in beheer asook moontlike ander betrokkenes rondom alle beweringe. Die adverteerders het reeds opdrag gekry om hul advertensieborde te verwyder weens die feit dat dit onwettig is om in ’n begraafplaas te adverteer. Die heining gaan spoedig moontlik herstel word.
More
News
|