KWV stel top wynmaker aan
2005-11-24
BERTUS FOURIE, een van Suid-Afrika se top jong wynmakers, is so pas aangestel as senior wynmaker by KWV.
Vanaf November is hy verantwoordelik vir witwynbereiding, die Laborie landgoed, innovasie en ontwikkeling en die bereiding van spitswyne.
In hierdie verband vorm hy deel van KWV se span wynmakers onder leiding van die Hoofwynmaker, Sterik de Wet.
Volgens Willem Bestbier, besturende direkteur van KWV Suid-Afrika, het Fourie se uitnemende wynprestasies en innoverende denke gesteun deur ‘n sterk wetenskaplike en akademiese onderbou hom onmiddellik opgeval.
Hiervan getuig die unieke style van Pinotage wyne waarvoor Bertus bekendheid verwerf het. Vir hierdie vernuwende aanslag en prestasie is Bertus ook vereer deur aangewys te word as Woolworths se “Wynmaker van die Jaar”.
Bestbier sę hy is baie opgewonde oor die aanstelling.
“Dit het natuurlik alles plaasgevind in samewerking en met die insette van die KWV Wynkomitee, bestaande uit Neil Ellis, Charles Back en Macka McKenzie. Ek glo ons is nou goed toegerus en gereed om werklik ‘n groot en opwindende verskil te maak”.
Volgens Fourie is sy aanstelling by KWV ‘n droom wat vinniger gerealiseer het as wat hy verwag het. Hy het verder ‘n vaste oortuiging dat wynprestasie in goeie wingerde en gehaltedruiwe lę en spandeer daarom baie tyd in wingerde.
Fourie, wat in 1992 by die Hoërskool Langenhoven op Oudtshoorn gematrikuleer het, het benewens sy meestersgraad in Wynkunde aan die Universiteit van Stellenbosch ook ‘n graad in Mikrobiologie en Biochemie.
Hy en sy vrou Corlea, ook ‘n wynmaker, en hul elf maande oue dogtertjie Nelleke, woon die afgelope vyf jaar reeds op Wellington, waar Fourie die wynmaker te Diemersfontein was voor sy aanstelling by KWV.
* Die wynmakers Gideon Theron (Laborie) en Ian Nieuwoudt (KWV witwyne) het verlede jaar hul poste verloor weens die byvoeging van geurmiddels by hul wyne.
More
News
|