Huise staan weer
2005-11-24
DIE gesinne wie se huise verlede week in Fairyland deur ’n reuse-vragmotor platgetrap is, het weer woonplek.
Fairylanders Solomon Fleur, Luyanda Nokwali en Jeremiah Mbali het elk R5 500 ontvang om hul opslaanhuise te vervang en ’n dak oor hul gesinne se koppe te kry.
’n Vierde inwoner, Andile Magqabi, het R1 500 ontvang om sy huis, wat ook in die ongeluk beskadig is, te herstel.
Nou kan Sue-Ann Hendricks weer in haar ouerhuis studeer, soos sy Dinsdagaand verlede week vir haar graad 11 eksamen geleer het toe die rusbank en die vertoonkas haar teen die muur vasgedruk het.
“Ek het so geskrik,” het sy gesê.
“Daar was net ’n slag en toe kom die meubels teen my vas. My slaapkamer is heel platgevee. As ek nie in die sitkamer geleer het nie, was ek seker dood.”
Die skenking is gemaak deur Anderson Vervoer van Wellington, eienaars van die vragmotor, en Velo SA, werkgewer van die bakkie-bestuurder, Dampie Pietersen, wat in die botsing oorlede is.
Pietersen was Dinsdagaand op pad uit Fairyland nadat hy kollegas in die woonbuurt afgelaai het.
Die bakkie het in die Bo-Dalpad voor die vragmotor beland voordat die swaar voertuig tot op die sypaadjie geklim, ’n elektriese paal platgestoot en deur die plakkershuise geploeg het.
Pietersen het in die ongeluk gesterf. Noodredders het ook sewe beseerdes behandel.
’n Gedenkdiens vir Pietersen word Sondag gehou in die VGK Bergrivier, ná die tuisdiens te Lillystraat 10, Peyton Place, Wellington.
“Die finansiële bystand vir alternatiewe akkommodasie en voorsiening van basiese benodigdhede is gebaseer op humanitêre grondslag,” het ’n woordvoerder van die maatskappye gesê.
Alec Theo, voorsitter van die Paarl Drakenstein Welsynforum, het die polisie, ambulansdiens, brandweer en die gemeenskap geprys vir die flinke optrede en bystand met die botsing.
* The shacks destroyed during a crash have been erected with assistance from the companies whose vehicles were invloved.
More
News
|