Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Nefies sterf tragies

Nefies sterf tragies
 
2005-11-24

Lise Beyers

’n DAG nadat hy sy elfde verjaarsdag gevier het, is ’n seun en sy neef in ’n tref-en-trap ongeluk in Paarl-Oos doodgery.

Wat begin het as ’n rustige Sondagoggend in New Orleans, het daarna vir twee gesinne in ’n nagmerrie ontaard.

Die tragedie het om 08:20 plaasgevind toe ’n roomkleurige Toyota bakkie in Meakerstraat ooswaarts gery het. Die seuns, Kihano Abrahams (11) en sy neef Pha-iek Abrahams (9), het op ’n tuisgemaakte kiskar gery, toe hulle deur die bakkie getref is. Die voertuig het weggejaag.

’n Toneel wat groot mans met trane in hulle oë gelaat het, het gewag op talle mense wat na hul kerkdienste onderweg was. Die lewelose liggaampies het vier meter van mekaar in die middel van die ryvlak gelê.

’n Ooggetuie, Porchia Fortuin, het geskok vertel hoe sy ’n geweldige slag gehoor het en gesien hoe die bakkie oor iets ry. “Ek het gedink dis ’n hond, maar toe ek nader hardloop, sien ek die seuns in die pad lê.

“Dit was verskriklik. Hy het daarna net weggejaag. Een van die seuns was reeds dood, maar een het nog gelewe,” het Porchia gesnik.

Verdwaasde omstanders het gesê dat voertuie dikwels baie vinnig ry in Meakerstraat.

“Nou moet twee onskuldige seuntjies sterf voordat die owerhede bewus raak van dié gejaag,” het ontstoke inwoners van die Sontraal en New Orleans woongebiede gesê.

Die verdagte het Maandagoggend, 27 uur ná die ongeluk, by die Mbekweni polisiestasie aangemeld.Volgens Thanduxolo Hans (41) was hy met sy pa se bakkie op pad om ’n seil by ’n vriend in Paarl-Oos te gaan haal toe die ongeluk gebeur het.

Die twee seuntjies het na bewering plat op hul kiskar gelê toe die bakkie hulle op die hoek van Meaker- en Vahedstraat getref het.

Hans het tot by die vriend gery en is later na Huis 2147 in die Chris Hani woonbuurt in Mbekweni, waar hy die bakkie by sy ouerhuis
gelaat het.

Hans, ’n fabriekswerker, het Dinsdag in die Paarl landdroshof verskyn. Hy word vervolg op aanklagte van strafbare manslag, bestuur sonder ’n lisensie, versuim om stil te hou by die ongelukstoneel en versuim om die voorval binne 24 uur aan te meld.

Pha-iek was in graad drie aan William Lloyd Laerskool, en Kihano was in graad vier by Drakenstein Primêr. Hulle was boesemvriende en volgens hul gesinne onafskeidbaar.

Die oggend van die ongeluk was Kihano en Pha-iek oudergewoonte op pad na die kafee om lekkers te koop.

Pha-iek se pa het op die ongelukstoneel afgekom toe hy sy seun by Kihano se huis in Joepatstraat gaan haal het.

’n Verslae Phaeez het later gesê dat Pha-iek sy lieflingkind was wat orals met hom saamgery het.

“Kihano was so ’n liefdevolle kind wat in almal wat hom geken het se harte gekruip het,” het Theresa, Kihano se ontroosbare moeder, gesê.

Pha-iek is reeds Sondag volgens Moslemtradisie ter ruste gelê, en Kihano is Woensdag na ’n diens by die Nuwe Apostoliese Kerk in Maitland veras.

Hans is op borgtog van R300 vrygelaat en gewaarsku om op 30 Januarie weer in die Paarl landdroshof te verskyn.

* Two young cousins on a go-cart were killed in an accident in Meaker street, Paarl East, on Sunday morning.



More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za