Le Roux groet Boland Kavaliers
2005-11-24
DIE Boland Kavaliers-flank, Kobus le Roux, het verlede week sy uittrede uit rugby aangekondig.
Die klipharde speler was dié seisoen een van die Boland se uitblinkers.
Die 28-jarige Le Roux boer naby Laingsburg en sy besluit om hierop te fokus, het beteken dat daar nie meer tyd was vir rugby nie.
Le Roux het 49 wedstryde vir die Boland gespeel en in 2002 sy debuut vir die provinsie gemaak.
Intussen het die Boland Rugby Unie heelwat nuwe spelers gekontrakteer vir volgende seisoen.
Werner Coetzee (Grens, senter), Oswald Damonse (Griffons, losskakel/heelagter), Sebastiaan Hilpert (OP, flank), Evert Kleynhaüs (SWD, flank) en Willie Bauer (OP, slot) is die nuwe gesigte in die Boland-span.
Benewens Le Roux het die Kavaliers nog net een speler verloor - die loskopstut, Jaco Engels, wat voortaan vir die Blou Bulle sal speel.
In sy plek is die Paarliet Janroux van Niekerk ’n kontrak aangebied. Van Niekerk het vanjaar vir Wellington Rugbyklub en die SA Amateurspan gespeel.
Kleiner kontrakte is gegee aan ’n groep plaaslike spelers, wat die Kavaliers diepte sal gee tydens die Vodacom-beker kompetisie.
Die groep is Enrico Swartz (vleuel), Kenny Africa (slot, Worcester Villagers), Clement Lewis (flank, Roses United), Koos Westraad (stut, Ceres), Frankie Horn (flank), Louw Schabord (heelagter), Nico Smit (agsteman) en Pieter Wium (haker) almal van Wellington Rugbyklub.
More
News
|