Bergrivier slaan Tiere se tande in
2005-11-24
’n STANDVASTIGE kolfvertoning, waaronder twee vyftigtalle, het Saterdag daartoe gelei dat Bergrivier vir Young Peoples met 75 lopies geklop het.
Op Wellington was dit Bergrivier wat eerste hul vorm met die kolf gevind het.
Dit was veral Adiel Cassiem (58 4x12), Aden Dreyden (32 4x3) en die kaptein Marquin Julies (83 4x9, 6x1) wat die besoekers swaar gestraf het.
Julies en Dreyden het ’n vennootskap van 73 om die vierde paaltjie aangeteken wat hul span deurlopend in beheer van die wedstryd gehou het.
Cassiem se groot mokerhoue het op sy beurt verseker dat hy gereeld die grenstou gevind het.
Peoples se Hubert Ontong (2/34) en Sean Andrews (2/50) was die enigste boulers wat met redelike goeie boulsyfers kon spog.
Die Tiere het hul kolfbeurt goed begin en met ’n positiewe gesindheid die teiken gejaag.
Warren George (35 4x5) en Quinton Kannemeyer (28 4x2) het ’n eerstepaaltjie-vennootskap van 60 op die bord gesit.
Daar was egter geen kolwer wat op dié fondasie kon voortbou nie, en Peoples word vir 169 uitgehaal.
Ontong (21), Andrew Victor (24) en Andrews (19) het wel moedig probeer.
Bergrivier se groot angel onder die boulers was Lester Hendricks (4/19 in 15bb) terwyl Morné de Vries (2/8) ook ’n waardevolle sessie afgestuur het.
Sondag het Bergrivier se eerste span na Stellenbosch gereis om vir Van der Stel aan te vat.
Die tuisspan moker 239/7 danksy groot beurte deur Henry Fourie (99 4x10, 6x1), Jesse-Owen Simonse (35 4x4) en Nick Northcote (32 4x3).
Hendricks was weer die besoekers se beste bouler met syfers van 2/46.
Swak oordeel en ongeduldigheid voor die penne was Bergrivier se ondergang en hulle word vir ’n skamele 72 uitgeboul.
Dale Heramb (4/12 in 5bb) was die bouler wat Bergrivier se kolwers soos ’n laerskoolspannetjie laat lyk het terwyl Daniel Prins (2/6), Jacques Krynauw (2/16) en Jaco Strydom (2/21) ook die paaltjies vir die tuisspan laat kantel het.
Young Peoples se Reserwe-ligaspan het vergoed vir die eerste span se nederlaag toe hulle hul eweknieë van Bergrivier met twee paaltjies op Daljosafat Stadion geklop het.
Ondanks ’n heel verdedigbare totaal van 263/4, kon Bergrivier nie die Peoples-kolwers se aanslag keer nie.
Verbroude vangkanse in die veld het die besoekers duur te staan gekom.
Waylon Libbie (72 4x11 en 2/46), Allistair Claassen (68nun 4x7), Seldon January (53 4x6), Wesley Goetham (35 4x5) en Paul Liebenberg (2/45) was Bergrivier se uitblinkers.
Die dag het egter behoort aan Peoples se Imraan Nackerdien. Die 15-jarige speler van Paarl Gimnasium se 93 lopies het een ses en 13 grenshoue ingesluit.
Hy is ewe goed bygestaan deur Tom-Ross Fortuin (59 6x2, 4x8) en Henley Julies (51 4x6, 6x1).
Bergrivier I speel Saterdag tuis teen Victoriane. Peoples I en III speel Saterdag tuis teen onderskeidelik Brackenfell I en Paarl-Oos III, terwyl die tweede span weg speel teen Brackenfell.
More
News
|