Spanning loop hoog
2005-11-24
HARDNEKKIGE kolfwerk deur ’n paar individue het Saterdag vir Novel Paarl die knoop deurgehak in hul Premierliga tuiswedstryd teen Wellington.
Die tuisspan stuur vir Wellington in om te kolf en breek sommer vroeg deur toe Ultalyn Ernstzen van die gevaarman Dawie Malan ontslae raak.
Met Wellington se telling op 68/5 in die 23ste boulbeurt lyk dit of die Paarliete sommer gou-gou die wedstryd in die sakkie gaan hê.
Bronwill Williams (60 4x9, 6x1) en Marnus Hugo (30 4x2, 6x1) het egter ander planne en sorg vir ’n vennootskap van 73 lopies om die sesde paaltjie.
Warren Groeneveld (27 4x5) en Ryan Groeneveld (21 4x3) het ook twee waardevolle beurte gespeel.
Die besoekers se laaste paaltjie kantel in die 49ste boulbeurt met die telling op 180.
Paarl se boulaanval is gelei deur Godfrey Stevens (3/43) en Ernstzen (3/48).
Paarl se kolfbeurt begin ook met hake en stote met Elrick Jansen en Stevens wat albei hul paaltjies in die 11de boulbeurt verloor, met die telling op 40/3 danksy knap boulwerk deur Ryan Groeneveld.
Die Paarliete se kolfbeurt stort dramaties in duie en hulle verloor hul volgende vyf paaltjies met slegs 64 lopies wat by die totaal gevoeg word.
Met die telling op 104/8 in die 39ste boulbeurt is die skrif aan die muur en was die Paarl-manne bykans oortuig daarvan dat hul treurmare dié seisoen gaan voortduur.
Die immergroen Leroy Walters (88 4x9, 6x2) en Faghrie Jacobs (29nun 4x1, 6x1) kom egter tot hul span se redding met ’n vennootskap van 64 lopies.
Nadat Walters sy paaltjie verloor, met die telling op 168/9 en nog 13 lopies kort van ’n oorwinning, neem Jacobs beheer van die wedstryd en moker ’n reuse ses van Rian Jephtha se boulwerk af.
Tesame met Clint Philander behaal hulle die teiken met Philander wat die wenlopies behaal deur die bal blitsig grens toe te jaag.
Walters en Jacobs word gesamentlik as speler van die wedstryd aangewys, nadat hul manjifieke poging daartoe bydra dat Paarl maksimum punte verdien.
Ryan Groeneveld (4/30) en Malan (2/50) se goeie boulwerk is egter nie genoeg om aan Wellington ’n oorwinning te besorg nie.
Saterdag speel Novel Paarl op die Parys-veld in sy eerste derbystryd van die seisoen teen Paarl-Oos wat tans goed op dreef is.
Op Wellington het Paarl se naasbeste ook sukses geproe teen die tuisspan.
Die besoekers kolf eerste en behaal 281/8 in hul toegelate 60 boulbeurte.
Lindsay van der Berg (58 4x9), Kurt Martin (60 4x6) en Hein Adonis (63 4x4, 6x4) moker die lopies.
Christiaan Laubscher (3/49) en Alfons Blom (2/60) oes die paaltjies vir Wellington in.
Die tuisspan word in die 58ste boulbeurt vir 266 lopies, 15 kort van ’n sege uitgehaal.
Richard Stroebel (58 4x11) en Cedric Williams (54 4x3, 6x4) kon nie verhoed dat Paarl die wedstryd wen nie.
Clayton August (2/82), Lyndon Fredericks (3/57) en Hein Adonis (4/66) is die Paarl boulers wat die paaltjies neem.
Adonis word as speler van die wedstryd aangewys danksy sy veelsydige vertoning met die kolf en bal.
Paarl III (200/6) klop Brackenfell (161/10).
Graham Adams (46 4x2), Elrico Matthee (42 4x4, 6x1 en 3/36) en Basil Petersen (37nun 4x1, 6x1), Rozario Fourie (2/31), T Benjamin (2/23) was Paarl se uitblinkers.
Dié naweek speel Paarl II weg teen Paarl-Oos II en Paarl III tuis teen Spes Bona II.
More
News
|