Topbestuur van Drakenstein uitgedun
2005-03-03
NOG twee hoofde van Drakenstein Munisipaliteit, Hennie Barnard (tesourier) en Graham Tong (ingenieur), het Vrydag die diens van die Munisipaliteit verlaat. Hulle het ’n opsie vir vroeë uitdienstreding uitgeoefen en volg nou in die voetspore van die munisipale bestuurder en twee hoofde wat einde Januarie die trekpad gevat het. Barnard en Tong se gesamentlike pakkette beloop net onder die R7 miljoen, wat gevestigde voordele insluit. Saam met die R7,3 miljoen wat in Januarie uitbetaal is aan Jacques Carstens, Johan Lambrecht en Jan Coetzee, beteken dit dat sowat R14 miljoen nou aan uitdienstredings betaal is. Die Uitvoerende Burgemeesterskomitee beplan om so spoedig moontlik met die proses te begin om die poste te adverteer en mik daarna om teen 1 Julie die pos van munisipale bestuurder te vul, en daarna die res van die nuwe direkteursposte. Intussen is Khaya Mrali (hoof korporatiewe dienste), die enigste van die oorspronklike hoofde wat nog in diens is, aangestel as die waarnemende munisipale bestuurder. David Delaney, wat reeds geruime tyd waarneem as hoof van beplanning, bly aan in dié posisie. Ander waarnemende aanstellings is André Marais (korporatief), Leon Coetzee (ingenieursdienste), Tommy Matthee (gemeenskapsdienste) en Cavin Petersen (finansies). Intussen is Jan Coetzee tydelik terug. Hy is op ’n konsultasie-basis by elektrisiteit aangestel. Dié aanstelling hou verband met die wetlike vereistes van die elektrisiteitsdepartement. * The entire top management of Drakenstein Municipality appointed in 2001, but one, has been culled.
More
News
|