Hoekom sulke hartverskeurende foto's?
2005-12-01
EK bly nog nie lank in die omgewing nie, maar een ding is vir my opvallend - die Paarl Post is elke week vol moord en doodslag met foto’s wat jou hart verskeur.
Die nuutste uitgawe is vir my ‘n baie goeie en ongelooflike hartseer voorbeeld.
Op die voorblad is ‘n foto van ouers wat afskeid neem van hul jong kind waar hy onder ‘n laken lê met bloed wat in die pad afloop na ‘n tref-en-trap-voorval.
Blaai na die berig op bladsy 2 en daar is ‘n foto van ‘n pa wat by ‘n ander kind op dieselfde toneel afskeid neem. Die foto’s het my geskok.
Uit respek vir die oorledenes en hul geskokte familie moes die foto’s weggelaat gewees het.
Die publiek kon net sowel ingelig gewees het oor die gevare van kinders en verkeer, met net ‘n voorbladberig sonder foto’s.
Die koerant neem nie die gevoel van die gemeenskap in ag nie. Laat asseblief vriende en familie toe om in vrede afskeid te neem van geliefdes sonder dat die foto’s oor die hele voorblad versprei word. Vra jouself die vraag: hoe sou jy voel as dit jy en jou kind was?
Julle soek sensasie waar julle meegevoel moet toon!!!
Pieter du Toit
Die Paarl Post fotograaf wat op die tragiese toneel afgekom het, het self jong kinders. Die beelde het hom so ontstel dat hy die gevare wat op kinders in die pad wag, sy gesin ernstig op die hart gedruk het. Dit was beelde van skokkende realiteit, die dood van ‘n kind en die smart van ‘n ouer. Geen berig alleen sou die dringendheid van padveiligheid sterker op kinders, ouers, motoriste en owerhede kon dring as die werklikheid wat die foto’s oordra nie. - Red.
More
News
|