Wellingtonners skuldig
2005-12-01
TWEE Wellingtonse sakemanne is skuldig bevind aan die ontvangs en besit van gesteelde voertuie asook regsverydeling.
Danye Louw en sy pa, Herman, is verlede week in die Paarl streekhof gevonnis.
Danye (29) van Generaal Hertzoglaan 165 is tot 18 maande korrektiewe toesig gevonnis met voorwaardes dat hy in huisarres bly en vir die tydperk van die vonnis 16 uur per maand gemeenskapsdiens verrig.
Op ’n tweede aanklag is Danye drie jaar gevangenisstraf opgelê wat vir vyf jaar opgeskort is.
Herman (51) van Murraylaan 17 is vir regsverydeling ’n drie jaar gevangenisstraf opgelê wat vir vyf jaar opgeskort is.
“As die vonnis nie tot die letter nagekom word nie, sal u nie so gelukkig wees om uit die gevangenis te bly nie,” het landdros Annamarie Immelman gewaarsku.
Danye het geteelde eiendom ontvang en besit: ’n Pajero wat in die Strand gesteel is, ’n vierwiel motorfiets wat in Houtbaai gesteel is asook ’n Golf met afgevylde onderstelnommer.
Herman het die vierwielmotorfiets en vier bande van sy seun se woning in Generaal Hertzoglaan na Murraylaan en toe na Regentstraat verskuif waar dit van die polisie versteek is.
Die vier ander beskuldigdes in die saak het vertoë aan die staatsaanklaer, Enslin Orange, gerig.
Die voormalige verkeersman Arrie Cloete, Herman se wynmakerskoonseun Johannes de Jongh, motorhandelaars Deon en Bennie Wiggins en motorverkoopsman Quinn Hough is onderskeidelik aangekla van bedrog met veranderde onderstelnommers of die verkoop van motors onder vals voorwendsels.
More
News
|