Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Plaaswerkers betoog oor arbeid

Plaaswerkers betoog oor arbeid
 
2005-12-01


SOWAT 250 plaaswerkers van Paarl, Wellington, Gouda en omliggende areas het Saterdag betoog voor die kantore van die Departement van Arbeid in die Paarl.

Hulle het ook ’n memorandum aan die kantoorhoof, Aziza Leitch, oorhandig.

Die sektorale vasstelling vir landbou het ten doel om ’n basiese minimumloon, werkstoestande en minimum standaarde vir behuising te verseker.

Navorsing wat deur die Sentrum vir Landelike Studies gedoen is, toon dat daar oor die algemeen lae nakoming van die sektorale vasstelling is.

Plaaswerkers sê hulle voel daar word teen hulle gediskrimineer, want hulle regte word nie beskerm soos ander werkers se regte nie.

Verder sê hulle dat onvoldoende inspeksies op plase gedoen word deur die Departement van Arbeid se inspekteurs, wat baie keer net met die werkgewer praat en nie met die werkers nie, en veral nie met die vroulike werkers nie.

Volgens hulle verhoog die vlakke van armoede waar die minimumloon nie betaal word nie.

Die werkers eis nou dat die nie-toepassing van arbeidswette as ’n kriminele oortreding hanteer word.

Verder vra hulle ’n spoedige oplossing van arbeidsgriewe wat aan die Departement van Arbeid gerapporteer word en die uitreiking van toepassingsbevele aan werkgewers wat nie die Sektorale Vasstelling betyds toegepas het nie.

Hulle eis ook ’n hersiening van die huidige kwytskeldingsproses om volle raadpleging met werkers te verseker, asook strenger, meer gereelde, deelnemende en meer geslags-sensitiewe inspeksies op plase.

Volgens die algemene sekretaris van die plaaswerkersvakbond Sikhula Sonke, Wendy Pekeur, is dit tyd dat die betrokke arbeidskantore nouer saamwerk met vakbonde om effektiewe diens te verseker.

“Omdat minder as 5% plaaswerkers georganiseer word, is dit ook belangrik om met organisasies soos Women on Farms Project, die Sentrum vir Landelike Studies en Bawsi, wie se fokus ook plaaswerkers is, saam te werk.”

Die memorandum sluit af met ’n versoek dat die Paarl Arbeidsentrum ’n minimum van nege inspeksies op plase doen teen 31 Desember en die Sentrum vir Landelike Studies van verslae voorsien van daardie inspeksies teen 15 Januarie.

Verder vra hulle dat die Departement van Arbeid ’n spesiale afdeling tot stand bring wat spesifiek toegespits moet wees op inspeksies in die landbousektor vir ’n tydperk van drie jaar.

Dit is om te verseker dat die landbousektor in lyn gebring word met die gees en bepaling van arbeidswette en die land se grondwet.

* About 250 farmworkers have protested at the Department of Labour’s lack of action against poor labour practices.



More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za