Man dood oor hond
2005-12-01
Lise Beyers
’n WERKNEMER van Fairview Wynlandgoed is die afgelope naweek in ’n noodlottige ongeluk dood.
Johnny Samuels was saam met sy broer Izak en nog vyf insittendes vanaf die Paarl op pad terug na die plaas op die ou Paarl-pad.
Izak Samuels, wat die bestuurder van die Mazda Sting was, het gesê in die omgewing van De Zoete Inval het ’n hond voor die voertuig ingehardloop. Hy het uitgeswaai, en sodoende beheer oor die voertuig verloor, waarna dit in ’n sloot beland het.
Johnny is op die toneel dood en die ander insittendes is na die Paarl Hospitaal geneem met verskeie beserings.
Izak en Johnny het by hul ma, Francina op Fairview gewoon. Die begrafnis vind Saterdag om 08:00 vanuit die huis, en daarna vanuit die Zionskerk plaas om 9:00.
* In nog ’n ongeluk is vyf jong mense uiters gelukkig om lewendig uit hul voertuig te klim het, nadat hulle motor sowat 75m ver by ’n krans afgery het in Bainskloof.
Davin Thomas (20), Shane Meyer (19), Heinrich van Niekerk (21), Sharisa Meyers (20) en Zaitron Jardin (17), almal van die Paarl, het slegs ligte beserings opgedoen tydens die ongeluk.
’n Woordvoerder van die ambulansdienste het gesê dat, omdat die insittendes taamlik jonk was, kon hulle weer tot by die pad kom sonder dat verdere reddingsdienste uitgeroep moes word.
* In nog ’n ongeluk in die Paarl-omgewing het ’n taxi met ’n gebarste band Vrydagmiddag op die N1 buite beheer gerol en op sy dak beland.
Die passasiers was uit Bellville in die rigting van Worcester onderweg toe die ongeluk gebeur het. Sestien mense is vir geringe beserings behandel.
* ’n Swemuitstappie in Du Toitskloof het tragies geëindig toe ’n jong man van die plaas De Poort Saterdagmiddag op pad huis toe onder ’n vragmotor beland het.
Marius Tromp (20) het besluit om voor sy vriende van die rivier terug te keer. Hy was alleen toe hy deur ’n vragmotor getref is en onder sy wiele beland het.
* ’n Voetganger is Saterdagaand om 20:30 op die R44 naby die plaas Nelson’s Creek doodgery.
Dora Jantjies van La Bonheur plaas is eers as vermis aangemeld voordat sy Maandagoggend by die lykhuis uitgeken is. Sy het die naweek by familielede in Agter-Paarl gekuier.
More
News
|