Erwe verkoop soos blits
2005-12-01
DIE Paarlse eiendomsmark blyk springlewendig te wees met 80% van die erwe in die nuwe Zomerlust-ontwikkeling wat binne een dag verkoop is.
Die ontwikkeling vorm deel van die Zomerlust-landgoed en is geleë aangrensend tot die historiese tuine van die Zomerlust-gastehuis.
Die landgoed bestaan uit ‘n verskeidenheid van gevestigde residensiële en kommersiële geboue met die oorblywende stuk grond wat onlangs in elf erwe opgedeel en nou deur Aslo Eiendomme bemark word.
Volgens Anton Louw, voorsitter van Aslo Eiendomme, is nege van die elf erwe binne een dag opgeraap.
“Die feit dat die erwe uiters sentraal in die Paarl geleë is met winkels en skole binne loopafstand, asook die privaatheid wat dit bied, het ‘n groot rol in die gewildheid van die Zomerlust-erwe gespeel.
“Hiermee saam is dit ook ‘n bewys dat die eiendomsmark van die Bolandse dorpe naby Kaapstad tans in gewildheid toeneem met eiendomspryse wat in die stedelike gebiede vir baie mense te duur geraak het. Veral in die Paarl is daar nog goeie waarde in die eiendomsmark,” het Louw gesê.
Die Zomerlust-erwe wissel van 500m² tot 650m² in grootte met pryse tussen R650 0000 tot R750 000.
Die erwe vorm deel van die veiligheidskompleks. Huise moet gebou word volgens die styl soos bepaal deur die Zomerlust estetiese komitee.
Skakel John Smook, bemarkingsdirekteur van Aslo Eiendomme, 872-5753 of 082-441-3467 vir meer inligting.
More
News
|