Sportvrou soos min
2005-12-01
’n JONG meisie van Bridge House is besig om die krieketvelde regoor die land aan die brand te speel.
Lauren Esterhuyse (14) het verlede jaar haar debuut vir Boland o.19 meisiekrieketspan gemaak.
As 13-jarige was Lauren die jongste speler in die Boland-span. Haar ouderdom het egter geensins op die veld teen haar getel nie en sy word tydens die Interprovinsiale Toernooi vir o.19 meisies as die bouler van die toernooi aangewys danksy boulsyfers van 11/55.
Lauren het vanjaar dié prestasie herhaal toe sy weer in die Boland o.19-span opgeneem is.
Tydens die Boland-WP Krieketweek wat die naweek op Stellenbosch gespeel is, is sy as die speler van die wedstryd aangewys met boulsyfers van 3/13 in 10 boulbeurte en 20 lopies.
Haar span moes egter met vier lopies die knie buig voor die WP (178).
Dié kranige speler, wat ook haar skool se o.19-span lei, hoop om op die sukses voort te bou wanneer vanjaar se Interprovinsiale Toernooi van 3 tot 6 Desember in Johannesburg gespeel word.
Lauren se talent is egter nie net beperk tot die krieketveld nie.
Sy is tans ook die SA karate-kampioen in die Goju Ryu-styl in haar afdeling, ’n prestasie wat sy ook verlede jaar behaal het.
Lauren is ook deel van Bridge House se eerste hokkiespan wat in Junie 2006 in Argentinië gaan toer.
More
News
|