Spannende einde vir krieket-derby
2005-12-01
DIE groot getal toeskouers by Saterdag se derby-krieketwedstryd tussen Novel Paarl en Paarl-Oos moes met gemengde gevoelens terugkeer huis toe nadat dié stryd onbeslis geëindig het.
Die wedstryd het laat begin weens die Parys-veld se klam kolfblad en die skeidsregters het besluit dat die wedstryd oor 54 boulbeurte per span beslis sal word.
Die tuisspan vra Paarl-Oos om eerste te kolf.
Paarl-Oos is reeds in die derde beurt op die agtervoet met die telling op 6/2 toe Ashley Pedro en Manfred de Kock hul paaltjies in agtereenvolgende boulbeurte verloor.
David Stevens (64 4x6 van 154 balle) en Roswin Jephtas (70 4x5, 6x1 van 135 balle) het egter ander planne en sorg vir ’n vennootskap van 125 lopies in 45 boulbeurte om die derde paaltjie.
In die proses om die lopie-tempo te versnel, verloor die middelkolwers hul paaltjies met reëlmaat en kry die besoekers uiteindelik 178/8.
Paarl se Godfrey Stevens (4/40 in 12bb) en Zurich Muller (2/35 in 9bb) het die kolwers gekasty.
Die tuisspan is self vroeg in die knyp toe Craig Abrahams ontslae raak van albei die openingskolwers.
Robin Andrews (18 4x2) en Stevens (49 4x5) stabiliseer egter die kolfbeurt voordat Andrews en Lynal Jansen hul paaltjies in agtereenvolgende boulbeurte verloor.
Met Paarl se telling op 156/6 en nog boulbeurte oor het Zurich Muller (34nun 4x3) en Hilton Solomon (19 4x1 en 6x1) moedig probeer om hul span tot ’n oorwinning te lei.
Die verlies van drie vinnige paaltjies noop egter vir Muller en Clint Philander om hul paaltjies te beskerm met nog nege balle wat geboul moet word.
Paarl eindig dus op 163/9 en hulle verdien ses punte, terwyl Paarl-Oos nege punte inpalm.
Vroeër het Wade Anderson (23 4x1) ook lopies aangeteken. Paarl-Oos se aanslag met die bal is deur Abrahams (4/11) en Justin Watts (2/41) gelei.
Saterdag speel Novel Paarl weg teen Malmesbury I.
Paarl III (126/10) verloor teen Spes Bona III (128/4). Vir Paarl het Basil Petersen (45 4x4) uitgeblink met die kolf, terwyl S Rhode (3/21) en E Rinquest (3/11) die tuisspan vir die lae telling uitgeknikker het.
Saterdag speel Paarl II en III teen Malmesbury II en Oostelikes III op die Parys-velde.
Paarl-Oos I speel Saterdag weg teen Pniel Coronation, terwyl die derde span tuis teen Maties kragte meet.
More
News
|