Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Boland sewespan oppad na titel

Boland sewespan oppad na titel
 
2005-12-01


DIE sewesrugbyspan van die Boland is goed op pad om hul nasionale titel te verdedig.

Die Boland het onlangs die Suidelike Toernooi in Oos-Londen gewen toe hulle vir Vrystaat in die eindstryd 45-21 geklop het.

Die Bolanders het in die proses ook die ander provinsies van Griekwas, Grens, OP, SWD, WP en Transkei uitgestof.

Boland sal egter eers met die wenner van die Noordelike kompetisie, die Luiperds, moet afreken as hulle weer die nasionale titel wil inpalm.

Dié wedstryd sal op 10 Desember gespeel word en sal ’n voorwedstryd wees vir die eindstryd van die IRB Sewesreeks se tweede been op George.

Renfred Dazel is as die Suidelike Toernooi se speler van die toernooi aangewys.

Dazel het agt drieë tydens die kompetisie gedruk, drie van hulle in die eindstryd teen Vrystaat.

Hy is dan ook in die nasionale span opgeneem wat in die eerste twee bene van die IRB toernooi gaan speel.

Dit is Dazel, wat vanjaar gereeld vir die Boland Kavaliers op vleuel uitgedraf het, se tweede verskyning vir die Bokke-Sewes.

Verlede jaar het hy tydens die Duitse toernooi ook die Groen en Goud oor sy kop getrek.

“Renfred se opname in die Springbok Sewespan laat beslis leemte in die Boland-span,” het dié span se afrigter, Arthur Jansen gesê.

Jansen het bygevoeg dat hy graag die dienste van die ander twee spoedvrate in die Kavaliers-span, Rayno Benjamin (die voorste driedrukker in vanjaar se Curriebeker kompetisie met agt drieë), en Jongikhaya Nokwe, ook by sy sewespan wou gebruik.

Die twee is egter geoormerk om vanjaar meer woema aan die Stormers-agterlyn te verleen en sal dus nie vir sewes-wedstryde beskikbaar wees nie.

Die Kavaliers se hoofafrigter, Hawies Fourie, is ook vanjaar by die Stormers se afrigtingspan betrek.

Fourie en oud-Boland afrigter Jerome Paarwater sal die hulpafrigters wees vir Kobus van der Merwe. Fourie sal gemoeid wees met die Stormers se agterlyn.

In sy plek sal Deon Davids die hoof-afrigterspos van die Kavaliers volstaan tydens die Vodacombeker-kompetisie.

’n Opwarmingswedstryd tussen die Stormers en die Boland Kavaliers sal op 28 Januarie op Wellington gespeel word, met die Kavaliers se eerste Vodacom-wedstryd wat op 11 Februarie teen die Griekwas op Wellington gespeel word.



More News
  • Kavaliers moet momentum gebruik
  • Sewes-aksie begin reeds môre
  • Baie visse uitgetrek
  • Standards koning
  • Last shot at gun run
  • Entries open for local MTB race
  • Wedvlug-duiwe
  • Sportdagboek
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za