Leer swem en red 'n lewe
2005-12-08
“DIE 10-jarige meisie wat verlede week in ’n plaasdam naby Franschhoek verdrink het, kon waarskynlik vandag nog geleef het as sy waterveiligheidsopleiding ontvang het.”
So het Nazli Gaidien, sweminstrukteur, verlede week gesê nadat ’n dinamiese waterveiligheidsveldtog by die Paarl-Oos swembad aangebied is.
Die oorledene, Alicia van Wyk, sou Woensdag self opleiding ontvang, maar die tragiese voorval het Dinsdag plaasgevind.
Nazli het gesê dat dit juis die doelwit van dié veldtog is om te voorkom dat nog kinders hierdie somer verdrink.
Die veldtog is ’n gesamentlike poging tussen die plaaslike swemklub, Paarl Aquarius, en die Departement Maatskaplike Dienste, om kinders bewus te maak van waterveiligheid en sodoende verdrinkings te bekamp.
Daar het reeds twee kinders hierdie seisoen in die Drakenstein gebied verdrink.
’n Vrywilliger, Edgar Lewis, het gesê dat nie net kinders van die Paarl opgelei word nie, ook kinders is vanaf Franschhoek, Klapmuts en Wellington na die swembad gebring vir opleiding.
Die kinders word die basiese beginsels van swem geleer en ’n algehele bewustheid van waterveiligheid word by hulle gekweek.
Oor die 500 kinders is binne drie dae opgelei.
Nazli moedig kinders aan om nou verder te leer swem en nooi belangstellendes uit om elke dag by hulle aan te sluit by die Paarl- Oos swembad waar lesse aangebied.
Belangstellendes 073-184-9627 skakel.
More
News
|