Hofbevel gevra teen Munisipaliteit
2005-12-08
DIE Hoër Hof in Kaapstad sal vanmiddag uitspraak gee oor die toekoms van agt hawelose gesinne wat skynbaar onwettig verwyder is van die oop erf oorkant Huguenot-stasie in die Paarl.
Paarlse prokureur Frik Coetzee is verlede week hof toe, uit pure radeloosheid, nadat hy geen reaksie uit die Drakenstein Munisipaliteit kon kry nie.
Coetzee sê die groep hawelose mense, wat agter ‘Jeff's Pub’ woon, het hom aan die einde van September gevra om hulle te verteenwoordig, aangesien die Munisipaliteit hulle wil verwyder.
Hy het ’n skrywe aan die Munisipaliteit gerig waarin hy hulle in kennis stel dat hy die groep verteenwoordig en vra vir ’n vergadering.
In die brief sê hy dat hy glo die saak kan geskik word, tot almal se voordeel.
“Tot datum het ek nog geen antwoord op enige van my skrywes ontvang nie,” sê Coetzee.
Op 14 November het die groep briewe gekry waarvolgens hulle die area die volgende dag moes ontruim, aangesien hulle nie ’n vergadering op 11 November bygewoon het nie.
Coetzee is nie in kennis gestel van die vergadering nie.
’n Dringende skrywe aan die Munisipaliteit op 14 November het weer eens geen reaksie uitgelok nie.
Op Woensdag 30 November, om 04:00 die oggend, is die mense summier verwyder na Zakazwane by Fairyland - volgens die Munisipaliteit “vrywillig”.
Later is daar in die hof erken dat agt van die gesinne nie vrywillig getrek het nie.
Coetzee het ’n dringende aansoek by die Hoër Hof ingedien waarin hy vra dat dié agt gesinne toestemming kry om terug te trek, en dat hulle boumateriaal terugbesorg word, aangesien daar nie ’n uitsettingsbevel was nie.
Op die oomblik sit die mense met hul besittings op die Kraal-terrein en wag vir die hof se beslissing.
“Ons kan nie bly daar waar hulle ons gelos het nie,” verduidelik een van die hawelose mans.
“Niemand het met die mense by Zakazwane gepraat nie, en party van hulle wag al lank vir grond. Nou kom druk die Munisipaliteit ons voor in.”
* A group of Paarl squatters are attempting to obtain a court order against their eviction from vacant land near Huguenot station.
More
News
|