Belgiese Trust gaan gebou verkoop
2005-12-08
DIE Franschhoek Belgiese Ontwikkelingtrust gaan sluit en die IT Sentrum in Groendal verkoop word. Daar word gehoop dat die nuwe eienaar dit steeds sal benut as opleiding- en werkskeppingsentrum.
Die opbrengs sal aangewend word vir beurse vir plaaslike inwoners om verder te studeer.
Die hulp van Belgiese donateurs is in 1998 ingeroep deur dr Jef Valkeniers, Belgiese parlementslid, waarna die Trust gestig is.
Die trust het die afgelope sewe jaar meer as R10 miljoen se fondse in Franschhoek belê. Die IT Sentrum is opgerig teen ‘n koste van R2 miljoen op versoek van die gemeenskap.
Daar is rekenaarklasse gegee en ‘n werkskeppingsentrum gestig met onder meer ‘n motorwassery en ‘n regshulpkantoor.
Die trust het hand bygesit met welsyn, kleuterskole, werkskepping, rekenaar- en ander beroepsopleiding (veral kelners en kokke, maar ook kleuterversorgers).
Benewens die Belgiese skenkings is fondse verkry van die Lotto en die private sektor.
‘n Gebou is vir Franschhoek Hospice opgerig (R500 000), asook ‘n kliniek (R100 000) en twee bewaarskole (R300 000). Die Khanyisa kleuterskool word as een van die bes toegeruste in die land beskou.
Plaaslike inwoners is na België gestuur om te leer sjokolade maak, waarna ‘n winkel plaaslik geopen is.
‘n Uitruilskema van Vlaamse onderwysstudente is op die been gebring wat aan 1000 laerskoolkinders in die gebied kuns, musiek- en sportafrigting gedoen het.
Twee orkeste is ook op die been gebring.
Twee studente het ook voorligting gedoen by hoërskole en rekenaar- en wiskundeklasse is na ure aangebied vir leerlinge.
Altesame 175 leerlinge was ook betrokke by die ontwikkeling van groentetuine by die laerskole. Groentetuine is ook ontwikkel in Mooiwater en groente is verskaf aan kleuterskole en sopkombuise.
Die trustees (David Mort, Hendy Snipelisky, George Sycamore, Vivian Jefthas, Jim Caulkin, eerw Peter de Villiers en raadslid Gordon Pheiffer) hoop om die IT Centre te verkoop aan iemand wat sal voortgaan met werkskepping en opleiding, veral vir werkers in die boubedryf waaraan daar ‘n behoefte is.
Die trustees het sonder vergoeding gewerk en noukeurig boek gehou van al die fondse wat bestee is en maandelikse state voltooi. Hulle is egter van mening dat hulle nou moet uittree en dat die sentrum op sy eie voete moet staan.
Belangstellendes wat om beurse wil aansoek doen, moet skryf aan die Trust by Posbus 146, Franschhoek 7690.
Die Trust het die afgelope jaar ses studente se universiteitstudies betaal.
More
News
|