Paarl Gim lyk vanjaar gevaarlik
2005-03-31
AS die vroeë vertonings van Paarl Gimnasium se eerste rugbyspan enige aanduiding is, dan gaan dié span vanjaar sy teenstanders behoorlik opdreun.
Gim het verlede Maandag tydens Hoër Landbouskool Boland se rugbydag die beker verower vir die span wat die aanskoulikste rugby gespeel het.
Tydens dié toernooi het die Gimmies met HTS Bellville (5-0), Warmbad (15-5) en New Orleans Sekondêr (15-0) afgereken. Die Gimmies was ook onoorwonne tydens die St Stithians-skolerugbyfees in Johannesburg.
Die Paarliete het hier met Windhoek (46-5), St Stithians (19-14) en Ermelo (27-16) afgereken.
Die span van Hoër Landbouskool, wat ook hier in aksie was, het ook 25-6 met Ermelo afgereken, maar moes kwaai deurloop toe die gedugte Monument hulle met 44-0 geklop het.
In sy derde wedstryd het die span van die Agter-Paarl in 'n stormloop sessie van 60 minute vir Hudson Park van Oos-Londen met 53-18 verneder.
HJS Paarl was op hul beurt in aksie tydens die St John toernooi.
Die Boishaaiers het op verrassende wyse 20-6 teen Nelspruit vasgeval, maar daarvoor vergoed toe hulle in hul volgende wedstryd vir St John 33-0 geklop het.
Boishaai het hul laaste wedstryd teen Afrikaanse Hoër Seunsskool (Affies) op spannende wyse 25-23 gewen.
* Ander uitslae van Boland Landbou se rugbydag is: Tygerberg k Hugenote 5-0, HJS k Worcester Gim 15-0, Boland Landbou k New Orleans 10-0, Stellenbosch k Paulus Joubert 15-0, Hugenote k Hottentots Holland 10-0, Boland Landbou k Jan van Riebeeck 15-0, Charlie Hofmeyer k Paulus Joubert 20-10, HJS k Akademia 30-0, Hugenote g Bredasdorp 5-5, New Orleans k Overberg 10-5, Hottentots Holland k Paulus Joubert 10-0, Boland Landbou k Akademia 30-0, HJS k Tygerberg 5-0.
More
News
|