Paarl-Oos laat wiel op Pniel
2005-12-08
EKONOMIESE boulwerk en positiewe kolfwerk het Saterdag vir Paarl-Oos ’n goeie sege op Pniel besorg.
Die Paarliete stuur Coronation in om te kolf en beperk hulle tot 190/9 nadat die tuisspan op ’n stadium goed op dreef is met 113/2.
Andrew Cyster (61 4x4), Niel Macré (50 4x5), Jacques van Wyk (24nun) was die manne wat met breë kolwe gespeel het.
Zynodien Fredericks (3/49 in 15bb) was die besoekers se voorste paaltjie-jagter, terwyl die suinige boulwerk van Craig Abrahams (1/19 in 10bb), Waylain September (1/36 in 15bb) en Elroy Abrahams (2/58 in 15bb) die druk voortdurend op die kolwers gehou het.
Die Paarliete struikel vroeg in hul kolfbeurt, toe Manfred de Kock (1), Garth Lewis (10) en Ashley Pedro (21) se paaltjies vinnig kantel en hulle op 49/3 bring.
Dit was egter ’n vasbyt-poging deur Roswin Jephtha en Bruce Miller wat die beurt weer op koers gekry het. Terwyl Jephtha (40) die lopies gejaag het, het Miller (16 4x4) die anker-rol vervul.
Dit het Paarl-Oos se telling op 124/5 te staan gebring in die 48ste beurt.
Jackie Daniels (32 4x5) het ook ’n goeie bydrae gelewer voordat September (50 4x5) en Elroy Abrahams (7nun) die span na ’n sege gekolf het.
Coronation se beste bouler was P Steyn met 2/34 in 13 boulbeurte waarvan vier leeg was.
Die klubs se tweede spanne het op Kylemore kragte gemeet. Die Pniel-manne kry 142 met H Myburgh (40), C Jephthas (28) en S Februarie (23) aan die stuur van sake.
Die besoekers se groot angel was Koos Liebenberg wat met 5/13 in slegs vier boulbeurte gespog het. Garland Goliath (2/20 in 3bb) en Bjoren Hollenbach (2/58 in 8bb) het die res van die paaltjies laat kantel.
Die Paarliete se gulsigheid om groot houe te speel, het hulle duur te staan gekom en hulle word almal uitgeboender vir 122.
Slegs Jared Cupido (25 4x3, 6x1) kon hond-haaraf maak.
’n Tweede vyf-paaltjie-telling is deur Coronation se A Robyn (5/34) platgetrek, terwyl D Hendricks (3/61) ook goed geboul het.
Paarl-Oos III (146/6) het Atlantis (145) op Atlantis met vier paaltjies geklop.
More
News
|