Peoples ploeter nog steeds voort
2005-12-08
DIE wisselvallige vertoning van Young Peoples Krieketklub se eerste span het Saterdag voortgeduur toe dié span met 78 lopies teen Victoriane verloor het.
Die studente kolf eerste op Daljosafat Stadion en moker 290 met die laaste paaltjies wat in die laaste beurt kantel.
Geeneen van die tuisspan se boulers kon met gesag boul nie en die paaltjies word een-een onder hulle verdeel.
Hoewel twee kolwers ook uitgehaal is met uithardlope, was Peoples se veldwerk oor die algemeen swak, met drie vangskote wat verbrou is.
Met die aanbreek van sy kolfbeurt het dinge van kwaad na erger gegaan vir die tuisspan.
Die vernietigende lyn en lengte van Sean Phillips se aflewerings het veroorsaak dat Peoples met die aanbreek van die vyfde beurt 0/3 op die telbord gehad het, met Edwin Jacobs, Warren George en Quinton Kannemeyer wat vir nulletjies skoongeboul is.
Die pa- en seun-kombinasie van Imran en Salieg Nackerdien het hierna die leisels vasgevat en ’n vennootskap van 68 aangeteken.
Die 15-jarige Imran was weereens die uitblinker met sy 74 wat nege grenshoue ingesluit het.
’n Goeie 68 deur Lorenzo Jacobs aan die einde van die beurt het Peoples se telling ’n groot hupstoot gegee, maar toe sy paaltjie kantel, was dit die laaste stuiptrekking vir die Paarliete.
Saterdag speel Peoples I teen Worcester United op Daljosafat Stadion. Peoples II speel op Worcester en die derde span speel weg teen Brackenfell.
More
News
|