Boland jonges begin goed
2005-12-08
WISSELVALLIGE kolfwerk was vandeesweek die grootste probleem waarmee die Boland o.13 krieketspan moes worstel tydens die o.13 Standard Bank week wat in die Paarl en Wellington gespeel is.
Die Boland-span het die toernooi met ’n baie lae moraal begin nadat hulle in die opwarmingswedstryde teen beide die Boland B-span en die WP verloor het.
Die jongklomp se selfvertroue het egter die hoogte ingeskiet nadat hulle Sondag in hul eerste wedstryd met die Vrystaat afgereken het.
Boland (197) het dié wedstryd met 11 lopies gewen, nadat Lucien Nel (36), Erik van der Merwe (33 en 3/34 in 10bb) en Reyaad Henry (2/36 in 10bb) vir die Bolanders uitgeblink het.
Maandag was die gasheerspan gans te sterk vir hul eweknie van die Kei.
Boland moker ’n reuse 272 danksy goeie bydraes van Pierre Kriel (60) en Johan Koegelenberg (48).
Edrique Cook (4/7 in 5bb) van Ebenezer Primêr en Aqeed Douman (3/3 in 3bb, 1 leeg) het die skade met die bal aangerig.
Die wingerdblaar op die pette van die Bolanders het egter Dinsdag ietwat verlep voorgekom, nadat hulle met sewe paaltjies deur die Noordelike Titane geklop is.
Die Boland kon slegs 113 haal, met net Henry en Cook (albei 18) wat dubbelsyfertellings kon aanteken.
Die regter-bybreekbouler, Cook, se 1/18 in 10 boulbeurte, waarvan twee leeg was, was die beste boulvertoning van die tuisspan.
“Boulers soos Reyaad Henry (wat ook die span se kaptein is), Erik van der Merwe (Hugenote Laerskool) en Rabian Engelbrecht (Magnolia Primêr) het die span baie goed gedra.
“Ons kolwers het egter nie aan ons verwagtinge voldoen nie,” het die Boland-afrigter, George Cook, Dinsdagmiddag gesê.
“Ons kolfwerk is nog baie wisselvallig en ons het dit nog nie reggekry om as ’n eenheid saam te speel nie.
“Ons boulers het die vermoë om spanne uit te boul, maar hulle het nie genoeg lopies om mee te speel nie,” het Cook gesê.
More
News
|