Wellington wil titel verdedig
2005-03-31
DIE Wellington Rugbyklub is oorgehaal om vanjaar sy titel in die Boland Superliga A1 te verdedig.
Dit sal egter geen maklike taak wees nie, met veral Ceres Rugbyklub (wat die liga in onlangse jare oorheers het) wat hul titel sal wil terugwen.
Die eerste span van Wellington het nie veel opwarmingswedstryde gespeel nie, om juis die spelers te spaar vir die nege agtereenvolgende wedstryde wat hulle in die eerste ronde van die liga moet speel.
In die twee oefenwedstryde waarin die Wellingtonners wel in aksie was, het die span beslis beïndruk.
Wellington het eerstens op Montagu ’n Boland B-span 34-28 geklop waarna hulle ’n Karoo XV-tal tydens die Rietbron Rugbydag 38-3 kaf gedraf het.
Iets wat beslis in die Wellingtonners se guns tel, is die feit dat die span se kern van verlede jaar grotendeels onveranderd is.
Spelers wat nie weer vanjaar vir Wellington in aksie sal wees nie, is Paul Bester (flank) wat Pukke toe is, en Rudy Gey van Pittius (senter) wat vanjaar vir die Maties sal speel.
Die skrumskakel, Arno Hugo, is tans in Amerika, maar keer in Junie terug en sal dan weer vir die klub beskikbaar wees.
Wellington sal egter tot dan op die dienste van Gordon Johnson kan staat maak. Johnson, oorspronklik van Wellington, het in 2004 vir Ceres gespeel, maar draf vanjaar weer vir sy tuisklub uit.
Die klub moes sy vaskopstut, Boela du Preez, aan die Boland Kavaliers afstaan. Du Preez, wat ook by die SA o.21-groep betrokke is, is egter net vir die Vodacom-reeks deur die Boland Rugby Unie gekontrakteer.
Met die Kavaliers se Pieter Terblanche wat sy terugkeer tot die Kavaliers sal maak tydens die Curriebeker, sal dit hopelik weer vir Wellington kans gee om vir Du Preez in die skrums in te span.
’n Groot aanwins vir die span is die terugkeer van Nico Smit. Dié agsteman was in 2002 kaptein van die Boland o.12-span.
Ná ’n paar jaar in Engeland is Smit weer terug in die land en reg om vir Wellington te speel.
Die voorsitter van die Wellington Rugbyklub, Dolf Stemmet, is versigtig om ’n vooruitsig te stel oor die seisoen wat voorlê.
“Ons sal maar kyk. Ek sê altyd dit is baie moeiliker om bo te bly as wat dit is om bo te kom. Almal is maar altyd daarop uit om jou te klop,” het Stemmet gesê.
“Ceres lyk of hulle vanjaar ’n groot aanslag op die titel gaan lewer. Hulle het ’n groot borgskap bekom en dit help altyd baie om ’n klub se prestasie en gees aan te moedig.”
More
News
|