Uitstalling oor ABC van Suid-Afrika
2005-12-14
WAT het die Groot Vyf, fynbos, snoek, ’n impi, ’n ossewa en Noot vir Noot met mekaar te doen?
Op die oog af nie veel nie, maar hulle vorm almal deel van die ABC van Suid-Afrika, soos gesien deur die oë van ’n groep leerders van Hoër Jongenskool Paarl.
Dié graad 8-leerders moes vir ’n Kuns- en Kultuurprojek iets uniek en eie aan Suid-Afrika deur ’n houtskoolskets voorstel.
Nou pryk hulle kreatiewe gedagtes teen die uitstalborde van die Afrikaanse Taalmuseum, waar ’n seleksie van die leerders se sketse tot einde Desember uitgestal word.
Die sketse sluit onder meer uitbeeldings van Suid-Afrikaanse eet- en drinkgoed in: A staan vir afval, B vir bokkom, D vir droëwors, K vir kerriekos, M vir mieliepap, P vir potjiekos én vir pap en wors, R vir rooibostee en S vir snoek.
Sportsterre was ook gewild onder die leerders: E staan vir Elana Meyer en M weer vir Mannetjies Roux.
Ander sketse beeld plekke uit, soos Kimberley se gat, Namakwaland en Robbeneiland; of bekende persone soos Tito Mboweni en Madiba.
Die letter D het sketse van die Drakensberge, ’n donkiekar en David Kramer opgelewer, terwyl die letter W onder andere wyn, ’n windpomp en ’n wingerd voorstel.
R staan vir Reënboognasie, met K vir Kaapse Klopse en X en Z vir Xhosa en Zulu.
Die Taalmuseum is geleë in die huis van Gideon Malherbe in Pastorielaan, in die hartjie van die Paarl.
Die museum huisves vandag ’n huismuseum asook ’n moderne uitstalling oor die wortels en variante van Afrikaans.
Dit is oop van Maandae tot Vrydae van 09:00 tot 16:00, en op Saterdae van 09:00 tot 13:00. Toegang is R10 (R2 vir leerders en studente).
Skakel 872-3441 vir meer inligting of om vir ’n begeleide toer te be-spreek.
More
News
|