Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Kom Afrikiti saam in die Paarl

Kom Afrikiti saam in die Paarl
 
2005-12-14


GOOI dit, meng dit, proe dit op jou tong... smul aan die sappigste stories, peusel aan die pittigste sêgoed gepeper met die lekkerste kruie en moet nóóit weer jou woorde sluk nie, want Afrikaans kóók!

Afrikaans is ’n taal waarin mens kan lag, kan spog, kan grap en kan jol! Dit bewys die ATKV met hulle Afrikiti, ’n heerlike Afrikaanse musiekmakietie.

Kapenaars kry op Vrydag 23 Desember vir oulaas ’n kans om hierdie Afrikaanse heerlikheid te beleef wanneer dit by die Paarl Amfiteater aangebied word.

Die ATKV is vanjaar 75 jaar oud, en vier dit deur meer as 40 Afrikiti’s wat landswyd gehou word.

Die teks is spesiaal vir die ATKV geskryf, en musiek en ’n oudiovisuele vertoning word slim ineengevleg om die pad van Afrikaans en Suid-Afrika die afgelope 75 jaar te beskryf.

’n Animasie-karaktertjie (Boetman) vat die kyker saam op sy virtuele reis, wat dan aangevul word deur gewilde Afrikaanse musiek - van goue oues tot heerlike luisterliedjies - en vlymskerp humor.
Rina Hugo se ondersteuners mag nie hierdie vertoning misloop nie, want sy sing soos net sy kan.

Sibongile Mngoma, een van die wêreld se beste soprane, wys dat ’n operastem ook gemaklik om ons poëtiese taal kan vou - sy sing ou Afrikaanse gunstelinge dat mens hoendervleis kry.

Die boyband Hi-5 sorg vir alles wat mens in ’n moderne musiekvertoning soek: looks, uitstekende choreografie en heerlike harmonie.

Liriekeraai-aanbieder Soli Philander, die Kaapse klong met die gladde tong, sorg saam met Nina Swart (veral bekend en geliefd as Wilmien van 7e Laan) vir skaterlag-humor.

Om van die kleurryke kostuums nie eens te praat nie. Het jy al ooit ’n kortbroek-safaripak in goue satyn gesien?

Ook die spesiaal ingevoerde klankstelsel maak hierdie ’n onvergeetlike produksie - die klank word spesiaal gekalibreer sodat elke lid van die gehoor voel die vertoning is spesiaal vir hom of haar.

Daar was nog nooit so ’n groot rondreisende vertoning in Afrikaans nie, en dit kos die ATKV meer as R7 miljoen om die 40 Afrikiti’s na die verskillende uithoeke van Suid-Afrika te neem.

Hierdie prettige produksie is trots Afrikaans, trots in Afrikaans en trots Suid-Afrikaans, en iets wat die hele gesin kan geniet.

Dis ’n groot makietie, die grootste jol in Afrikaans ooit - kom luister hoe ons moedertaal oor die tonge trippel en bokspring.

Hou die 23ste Desember oop om te kom saamskoffel, kwêla, kwaito, sakkie-sakkie en veral te kóók, alles in heerlike Afrikaans.

Die kaartjies vir die vertoning, wat om 20:30 begin, kos R56 en R85. Bespreek by 872-1002.



More News

 
    [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za